|

Privaatvervolgingseenheid beklink hofoorwinning – verseker 20 jaar tronkstraf vir verkragter

Ná byna vyf jaar van verhoor, gekenmerk deur verskeie vertragings, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid die skuldigbevinding van Isaac Andile Memese en ’n vonnis van 20 jaar tronkstraf vir verkragting en huisbraak verseker. Die slagoffer Celeste Gouws en haar vriende, wat sedert die verkragting in 2017 aan haar sy is, was oorweldig deur emosie toe landdros Eric Mbiyo die bevel gemaak het en ’n einde aan ’n verhoor gebring het wat op 13 Julie 2021 begin het. Gister het die KwaNojoli Landdroshof uitspraak gelewer, pleitredes aangehoor en tronkstraf opgelê in langdurige verrigtinge wat tot 19:00 geduur het.

Mbiyo het bevind dat Memese se gedrag met voorbedagte rade gedoen was en dat hy voordeel wou trek uit ’n vrou wat onder die invloed van alkohol was. Die landdros het ook Gouws, wat deur die beskuldigde en verdediging as ’n leuenaar gebrandmerk is, van blaam gesuiwer. Die hof het haar as ’n geloofwaardige getuie beskou en haar getuienis oor wat daardie aand gebeur het, aanvaar.

Mbiyo het in die hof gesê dat selfs al het ’n slagoffer alkohol gebruik en kwesbaar gelaat is, dit nie enige man vrywaar om hulle te misbruik nie. Hy het bygesê dat die bewyse dit duidelik gemaak het dat hierdie verkragting vooraf beplan was.

Landdros Eric Mbiyo (Engels)

Op die aand van 2 September 2017 het Memese alkohol saam met Gouws en haar vriend gedrink. Vroeër die aand het sy haar vriend na die huis ontbied omdat sy vermoed het dat Memese ongewenste seksuele toenaderings gemaak het. Die vriend het Gouws in die bed gesit en die eiendom saam met Memese verlaat, maar die verkragter het ’n kort ruk later teruggekeer om Gouws seksueel aan te rand.

Tydens argumente vir ’n gepaste vonnis het adv. Gerrie Nel, wat die saak privaat namens Gouws vervolg het, verkragting as vernederend en brutaal beskryf. Nel het daarop gewys dat Memese by die huis ingebreek het, die gordyne toegetrek en haar na ’n kamer gevat het om haar te verkrag. Volgens Nel was die verkragting ’n voorbedagte misdaad wat al vroeg in die aand beplan was. Dit alles sodat Memese die seksuele bevrediging kan kry wat hy wou gehad het.

Adv. Gerrie Nel (Engels)

Die saak het ’n lang en uitgerekte geskiedenis. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die nolle prosequi-sertifikaat op 30 Julie 2020 uitgereik; die verhoor het op 13 Julie 2021 begin, met die beskuldigde wat onskuldig gepleit het; die privaat aanklaer het sy saak op 23 Februarie 2022 afgehandel; die verdediging het sy saak op 20 April 2023 afgehandel; die partye het slotbetoë op 12 Julie 2024 aangebied; en uitspraak sou op 26 November 2024 gelewer word.

Alhoewel uitspraak aanvanklik in November 2024 gelewer sou word, is dit verskeie kere uitgestel. Gedurende daardie tydperk het Memese sy vorige regspan, bestaande uit advokaat Mike Maseti en prokureur Zama Somahela, afgedank en hulle vervang met advokate Templeton Mnqandeli Jikwana en Sonwabile Mancotywa in ’n laaste poging om uitspraak te ontduik. Laasgenoemde advokate het aangevoer dat Maseti ’n “wesenlike mistasting of ’n wesenlike fout rakende die benadering” tot Memese se saak gemaak het, veral waar dit kom by die betwisting van bewysstukke. Die hof het ’n nuwe aansoek van om al die privaat vervolgingsgetuies terug te roep en die verdediging se saak te heropen die hand gewys én die erkennings wat aan die begin van die verhoor gemaak is, tersyde te stel.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê hierdie saak is ’n bewys van die privaatvervolgingseenheid se doeltreffendheid om die mislukkings in die strafregstelsel die hoof te bied. “Dit is ’n beduidende oorwinning, nie net vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid nie, maar ook vir slagoffers van verkragting wat deur die staat gefaal is. Hierdie hele proses demonstreer ook die sekondêre trauma wat slagoffers van misdaad moet verduur. Beide die polisie en die NVG het Celeste gefaal. Toe ’n aanklaer besluit het om nie die saak te vervolg nie, het hy met ongevoeligheid opgemerk dat Memese ’n geleentheid gesien het – ’n vrou wat onder die invloed van alkohol is – en dit aangegryp het. Sonder privaat vervolging sou hierdie verkragter verantwoording vrygespring het.

“Die eenheid sal voortgaan om vir vroue wat geregtigheid geweier is te veg én selektiewe vervolging teen te staan. Ons volgende stap sal wees om ’n kostebevel teen die NVG vir byna vyf jaar se vervolging aan te vra. Wanneer organisasies soos AfriForum ingryp om die staat se werk te doen, moet die staat die koste van die privaat aanklaer dra,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik