| | |

AfriForum eis optrede oor volgehoue rioolstorting in Klerkindustria

AfriForum se Klerksdorp-tak het gister ’n formele klag aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die volgehoue rioolstorting by Mahoganystraat 26 en 28 in Klerkindustria, Klerksdorp. Volgens die eienaar van hierdie eiendomme duur die probleem reeds ’n geruime tyd ten spyte van herhaalde pogings om dit by die munisipaliteit aan te meld. Rou riool vloei steeds op die persele, wat nie net ’n ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko inhou nie, maar ook besigheidsbedrywighede negatief beïnvloed.

In sy brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om onmiddellik in te gryp om die rioolstorting te stop; ’n duidelike tydlyn vir herstelwerk te verskaf; deursigtigheid te bied oor die gebruik van riooltariewe; en te bevestig watter toerusting en kapasiteit beskikbaar is om dienslewering te verseker.

“Dit is skokkend dat die munisipaliteit aan inwoners en sake-eienaars kommunikeer dat hulle nie oor die nodige toerusting – soos ’n pomp – beskik om die probleem op te los nie. ’n Gebrek aan toerusting kan nooit as verskoning dien vir die versuim om basiese dienste te lewer nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die betrokke eiendomme sluit ’n industriële perseel in en die eienaar betaal bykans R100 000 per jaar vir riooldienste, wat egter nie gelewer word nie. Volgens AfriForum laat dit ernstige vrae ontstaan oor aanspreeklikheid en die aanwending van belasting- en tariefinkomste.

“Indien ’n enkele eiendom soveel kos, kan ’n mens net aflei dat die inkomste van die munisipaliteit se rioolafdeling uit Klerkindustria alleen honderde miljoene rand beloop. Waarheen vloei hierdie geld as basiese infrastruktuur nie onderhou word nie?” vra Pretorius.

AfriForum beklemtoon dat die huidige situasie ’n skending is van verskeie wetlike verpligtinge, insluitend die Grondwet, wat bepaal dat munisipaliteite dienste op ’n volhoubare wyse moet lewer, asook die reg van inwoners op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid is nie.

AfriForum waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien die munisipaliteit nie dringend optree nie.

“Hierdie situasie is onaanvaarbaar. Daar kan nie van inwoners of ondrnemings verwag word om groot bedrae vir dienste te betaal wat eenvoudig nie gelewer word nie,” sê S.W. Scott, AfriForum se voorsitter vir die Klerksdorp-tak.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Scott by 082 806 7484.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf