| |

“Hoeveel boere nog, Cachalia?” – AfriForum

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

AfriForum eis dringende optrede van Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie ná die wrede plaasaanval gisteroggend (28 Oktober) op Donovan Marx waartydens hy ernstig aangerand is en sy ore afgesny is.

Dié voorval beklemtoon opnuut die noodsaaklikheid daarvan dat die regering die erns van plaasaanvalle moet erken en ’n doelgerigte strategie moet instel om hierdie misdade te bekamp.

In ’n skrywe aan Cachalia versoek AfriForum onder meer dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en politici wat verantwoordelik is vir polisiëring deur konkrete optrede wys dat geweldsmisdade teen boere en landelike inwoners ernstig opgeneem word.

Die organisasie sê dat dit nie genoeg is vir die SAPD en politici om hul kommer uit te spreek ná ’n aanval soos dié nie. Hierdie uitsprake moet gevolg word deur doeltreffende misdaadvoorkoming, deeglike ondersoeke en die suksesvolle vervolging van oortreders.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, kan plaasaanvalle nie langer net as gewone misdaadvoorvalle hanteer word wanneer slagoffers aan uiterste geweld soos hierdie blootgestel word nie. “Die aanval op Donovan vereis ’n dringende reaksie en laat ernstige vrae ontstaan oor of die regering werklik die bedreiging verstaan waarmee landelike gemeenskappe daagliks te doen het.”

AfriForum wys daarop dat die afgesonderde ligging van talle plase en kleinhoewes inwoners besonder kwesbaar maak wanneer gewelddadige misdadigers toeslaan. Doeltreffende polisiëring vereis intelligensiegedrewe ondersoeke, ’n vinnige reaksievermoë en betekenisvolle samewerking tussen die SAPD en wettige gemeenskapsveiligheidstrukture.

Die organisasie herhaal daarom sy oproep dat plaasaanvalle amptelik as prioriteitsmisdade geklassifiseer moet word en dat ’n toegewyde nasionale strategie ingestel word om dié aanvalle te voorkom, ondersoeke te versterk en te verseker dat die skuldiges voor die hof gebring word.

“As die regering gespesialiseerde strategieë kan ontwikkel om ander vorme van georganiseerde en gewelddadige misdaad te bekamp, is daar geen rede waarom plaasaanvalle anders hanteer moet word nie. Ons het doelgerigte polisiëring, voldoende hulpbronne en formele samewerking tussen die SAPD en gemeenskapsveiligheidstrukture nodig. AfriForum sal aanhou om aanspreeklikheid te eis en druk toe te pas vir praktiese maatreëls wat landelike gemeenskappe beter beskerm,” sê Broodryk.

AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe deur sy 178 buurt- en plaaswagte te mobiliseer en op te lei. Die organisasie belê in die opleiding van vrywilligers en die ontwikkeling van gespesialiseerde reaksievermoëns om gemeenskappe toe te rus om ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel en, waar moontlik, met wetstoepassers saam te werk.

“AfriForum sal nie aanvaar dat wrede aanvalle op boere en landelike inwoners bloot met woorde beantwoord word nie. Ons eis daadwerklike optrede van die polisie en politieke leierskap om plaasaanvalle met die dringendheid en erns te hanteer wat dit vereis,” sluit Broodryk af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid