Swak bestuur van Eskom-skuld kan Ekurhuleni-metro in duisternis dompel, waarsku AfriForum
Klankgreep: Nadia Olckers (Afrikaans)
Klankgreep: Nadia Olckers (English)
AfriForum benadruk dat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit sal moet pa staan vir sy swak finansiële bestuur wat daartoe gelei het dat dié metro se skuld aan Eskom tot meer as R3,4 miljard toegeneem het en nou dreig om gedeeltes van die metro in donkerte te hul. Dit volg in reaksie op ’n Eskom-kennisgewing wat vandag uitgereik is en waarin die kragvoorsiener dreig om gedeeltes van die metro se kragtoevoer teen 16 April te verminder of geheel en al af te sny indien Ekurhuleni se agterstallige skuld aan Eskom nie betyds afbetaal word nie.
Gebiede wat moontlik teen 16 April sonder krag gelaat kan word, sluit in gedeeltes van Alberton, Boksburg-Noord, Germiston-Suid en Kempton Park.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum-streekskoördineerder vir die Oos-Rand, mag getroue betalende inwoners van dié metro nie die prys betaal vir die metro se volgehoue finansiële wanbestuur nie. “Dit blyk dat die krisis rakende die metro se wanbetaling aan Eskom by die dag erger word. In Februarie 2022 het die metro die kragvoorsiener nagenoeg R544 miljoen geskuld, teen Oktober 2023 het die skuld opgehoop tot sowat R1,5 miljard en teen Februarie 2025 het dit tot op R2,3 miljard te staan gekom. Dit het nou aangegroei tot meer as R3,4 miljard en toon duidelik dat die metro se Eskom-skuld nou buite beheer is,” verduidelik Olckers.
AfriForum eis in ’n brief wat vandag aan die metro gestuur is, dringende antwoorde oor hoe daar beplan word om hierdie ernstige krisis op te los en te verhoed dat inwoners nie vanweë die metro se wanbestuur benadeel word nie. In die brief eis die organisasie onder meer die volgende:
- ’n uiteensetting van hoe die agterstallige skuld aan Eskom opgehoop het;
- ’n implementeerbare afbetalingsplan met duidelike tydlyne en begrotingstoewysings;
- ’n uiteensetting van watter stappe gedoen word om te verseker dat kragverbruikers wat getrou betaal en kritieke infrastruktuur beskerm sal word teen enige moontlike vermindering in kragvoorsiening;
- ’n verduideliking van watter stappe gedoen word om verdere eskalasie van munisipale skuld te voorkom.
“Miljoene inwoners en duisende ondernemings kan moontlik binnekort in die donker gehul word, ongeag die feit dat hulle wel hul verpligtinge aan Eskom getrou nakom. Om die krisis te mitigeer, sal talle instellings soos skole en hospitale en kwesbare inwoners wat afhanklik is van kragvoorsiening, duur alternatiewe planne moet maak om te kan funksioneer bloot omdat die metro nie sy verpligtinge kan nakom en volhoubare bestuur kan toepas nie,” verduidelik Olckers.
Sy waarsku voorts dat kragonderbrekings ook ernstige veiligheidsrisiko’s inhou vir inwoners en ondernemings wat kragvoorsiening benodig vir veiligheidstoerusting soos alarmstelsels, sekuriteitskameras en hekmotors.
“Kragvoorsiening is ’n basiese munisipale diens wat noodsaaklik is vir waardigheid, deelname aan die ekonomie, gesondheidsorg en openbare veiligheid. Die metro se versuim om toe te sien dat kragvoorsiening aan die metro onverpoosd voortgaan, sal neerkom op ’n ernstige skending van die metro se grondwetlike en statutêre verpligtinge,” meen Olckers.
AfriForum benadruk in sy skrywe aan die metro dat indien dringende en doeltreffende maatreëls nie ingestel word om inwoners se regte en toegang tot basiese dienste te beskerm nie, die organisasie, in belang van die beskerming van die gemeenskap, verdere regstappe sal oorweeg.




