|

AfriForum help leerders se karakter bou om boeliegedrag teen te staan

Mari-Louise Erasmus en die teenboelieveldtogspan se gelukbringer, Matteus.

Boeliegedrag word nie met vuiste oorwin nie, maar met karakter. Met dié boodskap het AfriForum se teenboeliespan op 28 Julie die leerders van Laerskool Taalfees in eMalahleni (voorheen Witbank), Mpumalanga besoek om hulle met praktiese vaardighede toe te rus om boeliegedrag te herken, daarop te reageer en ’n kultuur van respek en omgee te bevorder.

Die interaktiewe aanbieding, geïnspireer deur die volle wapenrusting van God, het leerders gewys dat die belangrikste wapens teen boeliegedrag nie fisiese krag is nie, maar karaktereienskappe soos waarheid, geregtigheid, vrede, geloof en wysheid. Leerders is aangemoedig om hierdie waardes daagliks uit te leef en te besef dat elke keuse – om iemand in te sluit of uit te sluit, op te bou of af te breek – die kultuur van ’n skool vorm.

“Kinders word daagliks gekonfronteer met keuses wat hul karakter vorm. Die Bybel leer ons dat ware krag nie daarin lê om ander te oorheers nie, maar om met waarheid, moed, respek en selfbeheersing op te tree. Dit is die eienskappe wat help om boeliegedrag te voorkom en veilige skole te bou,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram.

Volgens Erasmus is die teenboelieveldtog daarop gemik om leerders nie net bewus te maak van boeliegedrag nie, maar hulle ook toe te rus om die regte keuses te maak.

“Elke keer wanneer ’n leerder kies om iemand in te sluit, vir ’n maat op te staan of met respek op te tree, word die kultuur van die skool versterk. Dit is hoe karakter gebou word – een goeie keuse op ‘n slag.”

AfriForum moedig skole, ouers en gemeenskappe aan om saam te werk om karakter doelbewus by kinders te ontwikkel. Deur respek, empatie en verantwoordelikheid te kweek, kan ons skole bou waar elke leerder veilig voel om te leer en te groei.

Laai AfriForum se gratis stel teenboelieplakkate hier af. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners