|

Afrikaanse jeug nog nooit so flink soos in dié 10 jaar van Dink of Sink

Deur Megan Swart

AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie het oor die jare heen na raming 7 500 jong Afrikaners, wat met ywer debatkuns in hul moedertaal wil beoefen, se denke help vorm. Vanjaar vier AfriForum 10 jaar sedert hy by die onvoorbereidedebatskompetisie betrokke geraak het en kyk terug op hoe hierdie kompetisie selfstandige denke onder jongmense help bevorder het.

Die Dink of Sink-kompetisie het destyds sy oorsprong gehad as deel van Beeld, Die Burger en Volksblad se geliefde Jip-koerant. In 2016 het AfriForum by dié kompetisie betrokke geraak, dit sedertdien tot nuwe hoogtes geneem en uiteindelik na ’n volwaardige streekskompetisie uitgebrei.

Al dié jare later staan Dink of Sink as ’n toonaangewende nasionale debatsplatform vir Afrikaans bekend. Jaarliks trek dit sowat 1 200 laerskool- en hoërskoolleerders én universiteitstudente oor ses provinsies heen om hul debatsvernuf op die proef te stel.

Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys, sê Dink of Sink het die afgelope 10 jaar jongmense ’n lewensbelangrike vaardigheid geleer: om ’n standpunt in te neem en dit op ’n sinvolle wyse met selfvertroue te staaf.

“Jy kan soms intyds sien watse groot impak hierdie kompetisie op leerders het. Net verlede jaar, by Dink of Sink se nasionale finaal, was ’n leerder aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria in ’n tweestryd oor haar keuse van universiteit. Net ná haar debat, wat gehandel het oor ekonomiese groei teenoor omgewingsbewaring, het sy met trots aangekondig dat sy by Akademia gaan studeer om ’n studierigting na te jaag wat toevallig met dié debat verband gehou het. Dit was ’n spesiale oomblik en ’n bewys van hoe ’n ontwikkelde debatsvermoë uiteindelik leerders help om beslissend op te tree,” sê Müller.

Só lyk Dink of Sink se hoogtepunte

  • 2016 en 2017 – AfriForum raak by die kompetisie betrokke en streeksuitdunne word in die suidstreek (by Hoërskool D.F. Malan, nou bekend as DF Akademie), die sentraalstreek (by C&N Oranje Meisieskool) en die noordstreek (by Hoërskool Montana) gehou.
  • 2018 – Die kompetisiedeelname in die noordstreek bars uit sy nate en daar is gesamentlik sowat 40 spanne wat in die junior en senior kategorie deelneem.
  • 2019 – Dié onvoorbereidedebatskompetisie raak so populêr dat skole vanaf Mpumalanga, Limpopo en selfs Namibië deelneem. Die inskrywings is te veel om die debatte op slegs een dag te hou. Daar word besluit dat die kompetisie oor twee dae gehou word, met tien lokale vir die juniors om in te debatteer en tien vir die seniors.
  • 2020 – Dink of Sink is gerat om na ander provinsies uit te brei, maar die Covid-19-pandemie ry dié planne in die wiele. Die kompetisie word nou aanlyn gehou. Sodra ’n span inskryf, ontvang hulle dadelik ’n onderwerp en het hulle ’n uur om die debat te doen, op te neem en op te laai. Dit vat vier beoordelaars oor twee dae om die 54 inskrywings te beoordeel.
  • 2021 – Onderwysers in die Oos-Kaap sien die aanlyn debatte raak en wil hê hul leerders moet ook aanlyn deelneem. Dink of Sink brei uit na die Oos-Kaap.
  • 2022 – Daar word opgemerk dat die gr. 8-debatteerders sukkel om debatte te voer en planne word beraam om die onvoorbereidedebatskompetisie na laerskole te neem.
  • 2023 – Opleiding vir die eerste Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir laerskole begin. Selfs ’n gr. 3-leerling is teenwoordig en ywerig om oor debatkuns te leer. Die eerste kompetisie vir laerskole skop amptelik af en is ’n reusesukses onder leerders, hul ouers en onderwysers.
  • 2024 – Onderwysers in Mpumalanga wil hê hulle laerskole moet ook die geleentheid hê om aan die onvoorbereidedebatskompetisie deel te neem. Nie net word die eerste laerskoolkompetisie in dié provinsie gehou nie, maar dit brei ook uit na die Wes-Kaap.
  • 2025 – Die hoeveelheid laerskole wat in Gauteng aan die kompetisie deelneem, verdubbel van vier tot agt.
  • 2026 – Die eerste onvoorbereidedebatskompetisie vir die jaar is afgehandel en altesaam 72 leerders van agt laerskole in en om Pretoria het deelgeneem. Honderde laerskool- en hoërskoolleerders, asook universiteitstudente sal na verwagting aan vanjaar se kompetisies deelneem. Die viering van 10 jaar van debatvoering onder die jeug sal deurlopend in een of ander hoedanigheid by die opkomende kompetisies betrek word.

Die groot vieringe vind by vanjaar se nasionale finaal op 19 September by AfriForum Teater plaas. Hiertydens gaan 12 spanne van ses hoërskole van oor die land heen meeding om as die beste onvoorbereide debatteerders gekroon te word. Daar gaan hulde aan die mense gebring word wat die droom van Dink of Sink help vestig het. Tydens dié geleentheid sal oudwenners ook terugkeer na die verhoog en sorg vir dinamiese debatvoering.

Dink of Sink en die toekoms

AfriForum se Dink of Sink-span hoop om in die toekoms die kompetisie nóg verder uit te brei deur dit óók vir leerders aan te bied wat Afrikaans as ’n tweede addisionele taal neem. Dié leerders se moedertaal is nie Afrikaans nie, maar het ’n behoefte om op hul bestaande vaardighede te bou.

“Dié droom is ’n manier om die liefde vir Afrikaans onder ’n breër groep mense te bevorder,” sê Müller. “Deels hoekom hierdie kompetisie so vinnig gegroei het, is omdat AfriForum pro-moedertaalonderrig is en die onderwysers besef het dat kinders hul liefde vir Afrikaans verloor. Die kompetisie is ’n manier om daardie liefde aan te wakker en jongmense gemaklik te maak om met trots in Afrikaans debat te voer.”

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners