| |

Gautengse nommerplate en die beweerde kartel

Deur Zel-Marí Gelderblom

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het in 2022 aangekondig dat nuwe nommerplate ingefaseer sou word om misdaad beter te bekamp. Die nuwe nommerplate sal onder meer ’n opspoor- en naspoorstelsel en datakolletjies bevat, wat dit moeiliker sal maak om nommerplate te vervals of te manipuleer en misdadigers ná misdade op te spoor. Die oorspronklike implementeringsdatum van 1 April 2024 is intussen uitgestel. Volgens Lesufi sou die stelsel eers op staatsvoertuie getoets word voordat dit breër uitgerol sou word.

Die voorgestelde wetgewing sal moontlik veroorsaak dat alle motoriste in Suid-Afrika, en nie net in Gauteng nie, hul nommerplate moet vervang. Wanneer die stelsel in werking tree, sal motoriste na verwagting binne ’n jaar nuwe nommerplate moet bekom, aangesien lisensieskywe moontlik nie sonder die nuwe nommerplate hernu sal kan word nie. Vervaardigers van nommerplate sal geregistreer moet wees om die nuwe nommerplate te vervaardig, en motoriste sal hul nommerplate by hierdie goedgekeurde vervaardigers moet aankoop.

Gauteng  het in Junie 2025 nuwe “slim” nommerplate aangekondig wat verbeterde sekuriteitskenmerke bevat om voertuigmisdaad en vervalsing te beperk. Die stelsel is soos genoem aanvanklik op staatsvoertuie getoets en is oorweeg vir moontlike uitbreiding na alle voertuie in die provinsie. Daar was egter onsekerheid oor koste, tydlyne en implementering, wat vrae en kommer oor die finansiële impak en gebrek aan duidelikheid ontlok het. Volgens die Nommerplaatvereniging van Suid-Afrika (LAZA) is proefontwerp wat op staatsvoertuie aangebring is, egter nie so tegnologies gevorderd as wat aanvanklik gehoop is nie.

Die Gautengse Departement van Vervoer het aangedui dat dit nie duidelik was wat die beplande nuwe nommerplate motoriste sou kos nie en dat daar geen finale kosteberekeninge beskikbaar was nie. Die projek vir sogenaamde “slim” nommerplate is as ’n misdaadbekampinginisiatief bekendgestel, maar het vrae laat ontstaan oor implementeringskoste en die finansiële impak op voertuigeienaars in die provinsie. AfriForum en ander rolspelers het intussen kommer uitgespreek oor die gebrek aan duidelikheid, en gewaarsku dat motoriste moontlik gedwing kon word om nuwe nommerplate te koop sonder enige vaste prysinligting of duidelike tydlyne vir die uitrol daarvan.

AfriForum het reeds in Maart vanjaar kommer uitgespreek oor die beplande uitrol van nuwe nommerplate in Gauteng, en die provinsiale regering versoek om die projek tydelik op te skort totdat meer duidelikheid oor koste en implementering beskikbaar is. Die organisasie het aangevoer dat motoriste nie verplig behoort te word om nuwe nommerplate aan te skaf terwyl kernvrae oor pryse en tydlyne nog onbeantwoord is nie.

Hierdie standpunt volg op bevindings van die Mededingingskommissie dat drie vervaardigers van blanko nommerplate na bewering by prysvasstelling betrokke was. AfriForum voer aan dat die implementering van die nuwe stelsel onbillik sou wees voordat die Mededingingstribunaal die saak finaal oorweeg het, en dat groter duidelikheid oor werklike koste eers nodig is.

Die Mededingingskommissie het intussen die ondernemings Uniplate, NNPR en Unique Number Plate na die Mededingingstribunaal verwys vir beweerde koördinering van pryse en verhogings sedert minstens 2023, insluitend ’n R10-toeslag op plate in KwaZulu-Natal. Die kommissie meen die optrede het mededinging beperk, maar dat die ontmaskering van die kartel marktoegang kan verbeter en pryse kan stabiliseer.

Volgens AfriForum bestaan daar steeds onvoldoende inligting oor die koste en tydraamwerk van die Gauteng-projek, wat volgens die organisasie verdere onsekerheid vir motoriste skep. AfriForum pleit daarom vir ’n tydelike opskorting van die projek totdat regsprosesse afgehandel is.

Die ondersoek deur die Kommissie dui daarop dat die beweerde kartel sedert minstens Junie 2023 pryse landwyd kunsmatig verhoog het, met ’n besonderse impak in KwaZulu-Natal. Uniplate, as die grootste vervaardiger in die sektor, word na bewering spesifiek geïmpliseer in die koördinering van verhogings en tydlyne.

Die saak is na die Mededingingstribunaal verwys, met moontlike boetes van tot 10% van omset met skuldigbevinding. Dit volg op vorige bevindings teen Uniplate in 2019 oor monopoliegedrag en eksklusiewe kontrakte. Die breër ondersoek beklemtoon die moontlike sistemiese aard van mededingingsprobleme in die sektor en die gevolge vir verbruikerskoste.

Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad in genderpolitiek (cum laude) aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf