|

Overstrand-tak rig derde waterpunt op in geval van nood

AfriForum het die Overstrand-gebied se gereedheid vir noodgevalle verder uitgebrei met die oprigting van ’n derde noodwaterpunt. Dié noodwaterpunt is by Herberg-Aan-See se tehuis vir bejaardes in Gansbaai opgerig en sal voorts die gemeenskap help om doeltreffend op noodgevalle, veral brande en onderbrekings in watervoorsiening, te reageer.

Riaan Booysen, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Overstrand-tak, sê die oprigting van ’n derde noodwaterpunt volg op die tak se hernieude fokus op rampbestuur. Die tak het onder meer begin om vrywilligers in rampbestuur en brandbestryding op te lei, asook ’n mobiele brandbestrydingseenheid (bakkie-sakkie) aangekoop, wat dien as die tweede noodwaterpunt in die Overstrand.

“Die afgelope tyd het dit opnuut duidelik geword hoe belangrik dit is dat gemeenskappe voorbereid moet wees. ’n Noodwaterpunt kan ’n kritieke rol speel tydens brande of wanneer normale watervoorsiening onderbreek word. Ons doel is om praktiese oplossings te skep wat tot voordeel van die hele gemeenskap is,” sê Booysen.

“Die projekte wat oor die afgelope paar maande onderneem is, vorm als deel van ’n geïntegreerde benadering om die Overstrand se weerbaarheid teen noodgevalle te versterk.”

AfriForum se Overstrand-tak sal voortgaan om in samewerking met plaaslike gemeenskappe en relevante rolspelers projekte te ontwikkel wat die veiligheid, selfstandigheid en paraatheid van die Overstrand bevorder.

Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf