| | | | | |

Kempton Park-tak vra dringende optrede ná 58,3% toename in ontvoerings

Klankgreep: Yvonne Gerber (Afrikaans)

AfriForum se Kempton Park-tak soek antwoorde oor die kommerwekkende toename in ontvoerings wat in dié gebied aangeteken is.  Die organisasie wil onder meer weet hoe veiligheidshulpbronne aangewend word as sigbaarheid, patrollies en operasionele kapasiteit steeds onvoldoende is.

Volgens die jongste misdaadstatistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is 76 ontvoeringsake tussen April en Junie 2026 in die Kempton Park-polisiëringsgebied aangemeld, teenoor 48 gedurende dieselfde tydperk in 2025, ’n toename van 58,3% binne slegs een jaar. Kempton Park het gedurende hierdie tydperk die hoogste aantal ontvoerings van enige polisiesektor in Gauteng aangeteken.

“’n Toename van meer as 50% in ontvoerings binne een jaar behoort vir almal wat verantwoordelik is vir gemeenskapsveiligheid ’n wekroep te wees,” sê Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “Daar kan nie van inwoners verwag word om bloot toenemende misdaad as die nuwe normaal te aanvaar nie.”

Die toename in misdaad laat ook vrae ontstaan oor of die hulpbronne wat vir gemeenskapsveiligheid beskikbaar gestel word, wel in doeltreffende misdaadvoorkoming en sigbare polisiëring op grondvlak omskep word.

Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se kapitaalbegroting vir gemeenskapsveiligheid het van R70,5 miljoen in 2024/25 tot R91,6 miljoen in 2025/26 toegeneem. Die toekenning vir 2026/27 bly met R87,2 miljoen beduidend, terwyl die metro se begrotingsdokumente ook die Ekurhuleni Metropolitaanse Polisiedepartement (EMPD) as ’n belangrike komponent van gemeenskapsveiligheid identifiseer.

“Geld wat vir gemeenskapsveiligheid begroot word, moet uiteindelik sigbaar wees in werkende patrollievoertuie, sigbare polisiëring, behoorlik opgeleide personeel en ’n doeltreffende reaksie op misdaad,” sê Gerber

AfriForum se Kempton Park-tak doen self praktiese stappe

AfriForum se Kempton Park-tak het intussen begin om ’n praktiese aksieplan op te stel na aanleiding van die toenemende veiligheidsbekommernisse in die gemeenskap. Die aksieplan fokus onder meer op die versterking van die tak se bestaande veiligheidsaktiwiteite, beter samewerking met ander veiligheidstrukture en die verhoging van sigbaarheid in die gemeenskap.

Die veiligheidsituasie, insluitend die hoë aantal ontvoerings in Kempton Park en die onlangse ontdekking van die liggame van 11 vroue in die breër Ekurhuleni-gebied, is tydens ’n veiligheidsvergadering bespreek. Altesaam 32 AfriForum-buurtwagpatrolleerders uit die Kempton Park-gebied het aan die vergadering deelgeneem waartydens konkrete stappe geïdentifiseer is om gemeenskapsveiligheid te versterk.

As deel van hierdie benadering het die Kempton Park-tak ook op 19 September aan die provinsiale Operasie Shanela in die Kempton Park-gebied deelgeneem. Die operasie het verskeie wetstoepassings- en veiligheidstrukture bymekaargebring as deel van voortgesette pogings om misdaad die hoof te bied en veiligheid binne plaaslike gemeenskappe te bevorder.

“Deur op grondvlak teenwoordig te wees en met ander veiligheidstrukture saam te werk, kan ons ’n beter begrip kry van die uitdagings waarmee ons gemeenskappe te kampe het. Dit is belangrik dat gemeenskapsorganisasies en wetstoepassers, waar moontlik, konstruktief saamwerk om veiligheid te bevorder,” sê Ernest Hoddinot, buurtwagleier van AfriForum se Kempton Park-tak.

Die Kempton Park-tak sal ook sy eie patrollie-aktiwiteite verhoog en op 9 en 10 Oktober aan AfriForum se nasionale massapatrollie deelneem. Die doel hiervan is om sigbaarheid in die gemeenskap te verhoog, veiligheidsbekommernisse op grondvlak te identifiseer en gemeenskapsbetrokkenheid by misdaadvoorkoming te versterk.

Die tak se deelname aan Operasie Shanela en die opstel van ’n plaaslike aksieplan vorm deel van die Kempton Park-tak se verbintenis om nie slegs op die regering se optrede te wag nie, maar om binne die raamwerk van die wet prakties op te tree en waar moontlik met bestaande veiligheidstrukture saam te werk.

AfriForum doen ’n beroep op sterker samewerking

AfriForum se Kempton Park-tak doen verder ’n beroep op die SAPD om nouer met gevestigde gemeenskapsveiligheidsorganisasies, waaronder AfriForum, saam te werk om sigbaarheid te verhoog en samewerking binne gemeenskappe te verbeter.

“Gemeenskapsorganisasies kan nie die SAPD vervang nie en polisiëring bly die verantwoordelikheid van die regering. Gemeenskappe is egter bereid om deel van die oplossing te wees. AfriForum is gereed om met die SAPD en ander wettige veiligheidstrukture saam te werk om sigbaarheid te verhoog, inligting te deel en veiliger gemeenskappe te help skep,” sluit Gerber af.

AfriForum se Kempton Park-tak glo dat gemeenskappe nie tussen afwagting en selfdoen hoef te kies nie. Deur wettige, gekoördineerde gemeenskapsbetrokkenheid én doeltreffende polisiëring kan die regering en gemeenskappe saam ’n rol speel om misdaad te voorkom voordat nog inwoners slagoffers word.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid