AfriForum se vullisterreinoudits skop af in Noord-Kaap
Die burgerregteorganisasie AfriForum het amptelik met sy vullisterreinouditprojek in die Noord-Kaap begin. Die oudit is daarop gemik om te beoordeel of munisipale vullisterreine aan die basiese wetlike en operasionele vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. AfriForum het ook die Noord-Kaapse Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake hiervan in kennis gestel. AfriForum se Delportshoop-tak het reeds vandeesweek hulle oudit voltooi.
Die vullisterreinoudits word jaarliks deur opgeleide vrywilligers, met behulp van ’n gestandaardiseerde vraelys, voltooi. AfriForum se omvattende vullisterreinoudits word hoofsaaklik gebruik om onwettige bedrywighede, swak afvalbestuur, besoedeling, en gesondheidsrisiko’s te identifiseer.
Die organisasie beklemtoon dat dié projek nie ’n formele wetlike nakomingsoudit is nie en nie statutêre inspeksies deur die toepaslike owerhede vervang nie, maar dat dit wel dien as ’n manier om munisipaliteite tot verantwoording te roep en gemeenskappe met betroubare data toe te rus om hul omgewing en gesondheid te beskerm.
AfriForum het ook bevestig dat die organisasie die departement se betrokkenheid sal verwelkom en dat aanvullende ouditmetodologie op versoek beskikbaar gestel kan word.
In 2025 het slegs 8% van die Noord-Kaapse vullisterreine wat geoudit is, aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur voldoen.
“Ons hoop dat die Noord-Kaapse munisipaliteite uit verlede jaar se swak oudits geleer het en dat die resultate vanjaar verbetering sal toon,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.



