|

AfriForum sien rooi oor EFF-lid se misbruik van Tshwane-metro-hulpbronne

Klankgreep: Llewellynn Hemmens (Afrikaans)
Klankgreep: Llewellynn Hemmens (Engels)

’n See van rooi, tipies van die Economic Freedom Fighters (EFF) se handelsmerk, kenmerk maande lank al die amptelike munisipale bemarkingstukke van die EFF se Obakeng Ramabodu, lid van die burgemeesterskomitee vir Omgewing- en Landboubestuur in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit. Hierdie amptelike kommunikasiestukke is dié van die Tshwane-metro, maar is volgens AfriForum duidelike misbruik van munisipale hulpbronne ter bevordering van Ramabodu se eie politieke profiel.

Die burgerregteorganisasie het die metro daarom vandag formeel versoek om Ramabodu se oënskynlike misbruik van die metro se amptelike kommunikasiekanale, munisipale hulpbronne en belastingbetalers se geld te ondersoek en binne sewe dae hieroor verslag te doen. AfriForum het die metro ook versoek om aan te dui of Ramabodu se kommunikasie voldoen aan die metro se kommunikasiebeleid, raadslede se gedragskode en toepaslike wetgewing; en of voldoende maatreëls bestaan om soortgelyke voorvalle te voorkom.  

AfriForum se onthulling van Ramabodu se langdurige misbruik volg nadat die burgerregteorganisasie verlede maand ’n soortgelyke klag by die metro aanhangig gemaak het oor die publikasie van ’n amptelike opruimingskennisgewing. Dié kennisgewing is uitgereik na afloop van die EFF se Jeugdagviering by die Uniegebou. Daarin is aangekondig dat die metro ’n skoonmaakaksie van die terrein sou aanbied na afloop van ’n sogenaamde “successful public EEF event” [sic]. Die kennisgewing, met die metro se logo daarop, is ontwerp in die kenmerkende kleure van die EFF.

Dié kennisgewing was egter nie ’n geïsoleerde voorval nie. AfriForum het sedertdien by nadere ondersoek afgekom op ’n rits soortgelyke amptelike metro-kennisgewings van Ramabodu wat op sosiale media versprei is. Hierdie kennisgewings bemark verskeie programme en veldtogte van die Tshwane-metro, insluitende diensleweringsprogramme, skoonmaakaksies, terugvoergeleenthede, die stadsrede en ander amptelike munisipale kommunikasie.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder vir Pretoria, is elkeen van dié kennisgewings ’n inherente bemarking van die EFF, ondanks die feit dat dit amptelike kommunikasie van die metro is. “Ons het hier te make met ’n volgehoue patroon van misbruik, waar die grens tussen amptelike regeringskommunikasie en politieke bemarking vervaag het,” verduidelik Hemmens.

“Ons kan nie toelaat dat politieke partye belastingbetalers se geld, munisipale personeel en amptelike kommunikasie misbruik vir hul eie politieke gewin nie. Elke sent wat inwoners aan die metro betaal, behoort aangewend te word vir dienslewering – nie vir politieke selfbevordering nie. Wanneer amptelike munisipale kommunikasie en hulpbronne gebruik word om die beeld van ’n individuele politikus te poets, word die vertroue van inwoners geskend en die beginsel van ’n polities onpartydige staatsadministrasie ondermyn.”

“Niemand, ongeag hul politieke amp of posisie, mag munisipale hulpbronne vir persoonlike of partypolitieke gewin gebruik nie. Indien hierdie optrede toegelaat word om voortgesit te word, skep dit ’n gevaarlike presedent waar belastingbetalers uiteindelik politieke veldtogte befonds,” sluit Hemmens af.

AfriForum het die metro sewe werksdae gegee om te bevestig dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur is en om terugvoer oor die proses te verskaf. Indien geen bevredigende reaksie ontvang word nie, sal die organisasie verdere administratiewe en regstappe oorweeg om aanspreeklikheid af te dwing.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik