| | |

Beskerm jou huis en gesin só teen El Niño-veldbrande

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)

AfriForum doen ’n beroep op huiseienaars om nou reeds hul eiendomme voor te berei en hul huishoudings se blootstelling aan veldbrande te verminder. Dít volg namate die sogenaamde Super El Niño ontwikkel soos die somer en veldbrandsiesoen nader kom. Warm, droë en winderige toestande kan die gevaar van veldbrande verhoog wanneer voldoende droë plantegroei en ander brandstof teenwoordig is.

AfriForum waarsku dat die toestand van ’n tuin ’n belangrike rol kan speel in hoe maklik ’n veldbrand ’n woning bereik. Droë gras, dooie takke, blare, digte struike en ander brandbare materiaal kan die hoeveelheid beskikbare brandstof rondom ’n huis verhoog en daarom is die

voorbereiding een van die belangrikste verdedigingsmaatreëls waaroor huishoudings beskik en beheer het.

“’n Veldbrand is vinnig, gevaarlik en onvoorspelbaar. Wanneer sterk wind en droë plantegroei saam voorkom, kan ’n brand binne ’n baie kort tyd ’n woongebied bedreig. Huiseienaars moet daarom nie wag totdat hulle rook sien voordat hulle optree nie. Die tyd om jou huis, tuin en gesin gereed te kry, is vóór die brand uitbreek,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

AfriForum se wenke vir ’n brandveilige tuin is daarom daarop gemik om ’n meer verdedigbare ruimte rondom die woning te skep en die intensiteit en verspreiding van ’n naderende brand te help verminder. Daar behoort byvoorbeeld min of geen brandbare plantegroei direk om die huis te wees nie. Groot struike, rankplante en traliewerk moet nie teen buitemure groei nie; fynbos moet gesnoei word tot dit net ongeveer 20 cm hoog is; dooi blare, takke en ander plantmateriaal moet gereeld verwyder word; en ’n digte laag vetplante kan as grondbedekking gebruik word.

“Die doel is nie om elke plant rondom jou huis te verwyder nie. Dit gaan daaroor om jou tuin só te bestuur dat daar nie ’n ononderbroke baan van brandbare materiaal vanaf die veld tot teen jou woning is nie. Jou tuin moet deel van jou verdediging wees – nie ekstra brandstof vir die vuur nie,” sê Cooks.

AfriForum het ook ’n praktiese selfassesseringlys van veldbrandrisiko’s vir huiseienaars saamgestel. Dit stel inwoners in staat om sistematies deur hul eiendom te werk, risiko’s te identifiseer en voorkomende stappe te neem.

Die selfassessering kyk onder meer na die ligging van die eiendom, blootstelling aan sterk wind en natuurlike veld, plantegroei en brandstofbestuur, geboue en houtstrukture, die berging van brandbare materiaal, watervoorsiening en brandbestrydingstoerusting, toegang vir nooddienste en die huishouding se noodbeplanning.

Cooks beklemtoon dat veldbrandvoorbereiding nie net oor die beskerming van geboue en besittings gaan nie.  “Jou eerste prioriteit tydens ’n noodsituasie is menselewens. ’n Huis kan vervang word; ’n lewe nie. Elke gesin moet vooraf weet wat hulle gaan doen, waarheen hulle gaan indien hulle moet ontruim, wat hulle moet saamneem en wie verantwoordelik is vir kinders, bejaardes en troeteldiere. Daardie besluite moet nie eers geneem word wanneer ’n vuur reeds naderkom nie.  Huishoudings behoort ook die plaaslike brandweer se noodnommer byderhand te hê sodat ’n veldbrand so gou moontlik aangemeld kan word.”

AfriForum se selfassessering stel huiseienaars verder in staat om hul aantal geïdentifiseerde risiko’s te tel. Eiendomme met talle risiko-antwoorde verg dringender optrede, en die selfassessering beveel aan dat huiseienaars met ’n baie hoë blootstelling onmiddellike stappe doen en hul plaaslike brandweerdiens of brandbeskermingsvereniging vir verdere raad kontak.

“Moenie wag vir die eerste groot veldbrand van die seisoen voordat jy jou risiko begin verminder nie. Loop hierdie week deur jou erf. Kyk na jou gras, bome, geute, vuurmaakhout, watervoorraad en toegang vir nooddienste. Stel dan ’n plan op en pak die risiko’s een vir een aan. ’n Paar eenvoudige voorkomende stappe vandag kan die impak van ’n veldbrand later aansienlik help beperk,” sluit Cooks af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid