|

Ons vir jou-musiekspel vier 50ste vertoning by AfriForum Teater

Ná bykans twee maande op die planke en talle uitverkoopte vertonings maak die gewilde musiekspel Ons vir jou hierdie Vadersdag (Sondag 21 Junie 2026) sy laaste buiging by AfriForum Teater. Die produksie bereik hiermee ook ’n besonderse mylpaal wanneer dit vir die 50ste keer in dié teater opgevoer word.

’n Toneel uit Ons vir jou

Die afgelope sewe weke het gehore hulself verdiep in ’n kragtige produksie wat die rou menslike ervarings van die Tweede Vryheidsoorlog op ’n opregte en respekvolle wyse na die verhoog bring. Ons vir jou, met verskeie bekendes, insluitende Bok van Blerk (as genl. Koos de la Rey) en Nadia Beukes (as Nonnie de la Rey), het vanjaar vir die eerste keer in bykans ’n dekade weer op die planke gekom. Dit is boonop Van Blerk se eerste rol in ’n professionele teaterproduksie.

Anika de Beer (as Mariaan) en Rico Immelman (as Adaan) steel ook gehore se harte met die ontroerende liefdesverhaal van hul karakters te midde van oorlog en verlies.

Volgens Salet Smith, AfriForum Teater-bestuurder, beteken hierdie produksie veel meer as bloot ’n aand se vermaak.

Ons vir jou plaas jou in die posisie om die wêreld om jou vir ’n oomblik af te skakel, stil te word en te fokus op ’n deel van ons geskiedenis wat maklik vergete raak. Dit is nie net ’n teaterstuk nie; dit is ’n herinnering aan ons volk se deursettingsvermoë, kameraadskap en vertroue op God,” verduidelik sy.

Hierdie herlewing van een van Suid-Afrika se geliefdste musiekspele bou voort op ’n ryk nalatenskap en bied gehore die geleentheid om nie net te kyk nie, maar werklik te voel, te onthou en saam te beleef.

Die laaste vertonings vind plaas van Donderdag tot Sondag. Slegs ’n beperkte aantal kaartjies is nog beskikbaar. Moenie dié geleentheid om Ons vir jou te beleef, misloop nie.

Besonderhede

  • Datums: Donderdag 18 Junie om 19:00; Vrydag 19 Junie om 19:00; Saterdag 20 Junie om 14:00 en 19:00; en Sondag 21 Junie om 11:00 en 15:00
  • Plek: AfriForum Teater, Pretoria
  • Kaartjies is beskikbaar by www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners