AfriForum verwerp Eskom se tariefverhoging as ondeurdag
AfriForum het kommentaar by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien oor Eskom se strukturele aanpassing van die kleinhandeltarief wat kragtariewe vir die volgende boekjaar bepaal. Die burgerregteorganisasie voer aan dat terwyl Eskom feitlik lewenskostes opstoot deur die finansiële las op verbruikers oor te skuif, versaak Nersa sy plig om die publiek teen ondeurdagte besluite soos dié te beskerm. AfriForum vra nou vir Nersa om Eskom se aansoek vir verhoogde tariewe van die hand te wys en die kragvoorsiener se toekomstige aansoeke krities te beoordeel.
Eskom se jongste aansoek vorm deel van die driejaarlikse proses wat in hierdie siklus weens ’n berekeningsfout tot heelwat hoër kragtariefverhogings gelei het as wat oorspronklik aangekondig is. Die komende boekjaar is die derde jaar van die oorspronklike aansoek en die tweede jaar wat die tariewe weens die berekeningsfout opwaarts aangepas is. Daar is steeds geld uitstaande wat in die volgende siklus verhaal moet word, maar dit is nog nie bekend hoe dit toegepas gaan word nie.
In hierdie aansoek dra Eskom die las van die verhoogde tariewe meestal oor op die vaste heffings vir betalende verbruikers. Dit beteken dat die aangekondigde 8,8%-verhoging diegene meer kos wat probeer om minder krag te gebruik. Dit omdat hierdie kostes nie deur verminderde verbruik bestuur kan word nie. Dit verseker die inkomste van Eskom, maar vervreem verbruikers verder.
“Hierdie verskuiwing van die finansiële las is ’n kortsigtige besluit van Eskom. Hoewel dit op die korttermyn die geldsake van Eskom verbeter, veroorsaak dit dat al hoe meer verbruikers hulself van die netwerk probeer ontkoppel. Op die langtermyn verloor Eskom meer betalende kliënte, wat uiteindelik lei tot ’n groter geld nood,” sê Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
“Die feit dat Eskom dit kan regverdig om bonusse van R5,4 miljard te betaal as gevolg van wins uit die vorige jaar, maar nie bereid is om die tariewe vir die verbruikers aan te pas nie is ook ’n teregwysing vir Nersa. As reguleerder is Nersa veronderstel om die belange van die publiek te beskerm, maar Nersa se versuim om krities na Eskom se tariefverhogings te kyk is nie net slegte nuus vir die verbruiker nie, maar ook vir Eskom wat al hoe meer verbruikers verloor,” sê Beyers.
AfriForum sal voortgaan om druk op owerhede te plaas en die belange van verbruikers voor te hou.



