Springs-tak knap plaaslike park op ná dit met rommel bestrooi is
Ná Erfenisdag het lede van AfriForum se Springs-tak opgemerk dat die George Sutter Park wat deur dié tak onderhou word, met groot hoeveelhede rommel bestrooi was. Die tak het dadelik die nodige mannekrag ingespan om die gebied skoon te maak en altesaam 14 sakke vol rommel tydens die opruimingsaksie verwyder. Die tak het ook bome om die sogenaamde eendedam gesnoei en bykans ’n hele vrag tuinvullis verwyder.
Hierdie bedrywighede is deel van AfriForum se Springs-tak se voortgesette betrokkenheid by die instandhouding van die plaaslike omgewing.
“Ons glo dat ’n skoon en goed onderhoude omgewing ’n direkte invloed op ’n gemeenskap se trots en veiligheid het. Wanneer openbare ruimtes verwaarloos word, raak dit uiteindelik almal. AfriForum probeer daarom om self skouer aan die wiel te sit en iets prakties aan die omgewing te doen,” sê Petro Kirton, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.
Dié tak doen ’n beroep op inwoners om hul plaaslike openbare ruimtes te help beskerm deur rommel behoorlik weg te gooi en enige verdere probleme met die instandhouding van openbare gebiede aan te meld.





