AfriForum se Pionier-tak red baba uit kar, keer verdagtes aan en behaal nóg rits suksesse
’n Baba se lewe is gered, verskeie verdagtes is aangekeer en padveiligheid is bevorder. Dit alles en nog vele meer kom danksy die flink optrede van buurtwaglede van AfriForum se Pionier-tak in die ooste van Pretoria.
Baba se lewe gered
Volgens Alice Cory, dié tak se buurtwagleier, het die Pionier-tak in September ’n kritieke rol gespeel om ’n vasgekeerde baba se lewe te red. “’n Baba is per ongeluk in ’n voertuig toegesluit en buurtwaglede is daarheen ontbied. Hulle het die situasie met die nodige dringendheid en omsigtigheid hanteer en die baba is vinnig bevry. Die baba se veiligheid is deurgaans as eerste prioriteit hanteer.”
Verdagtes aangekeer
Die buurtwag het ook in September twee verdagtes aangekeer. In die eerste geval het buurtwaglede die verdagte, wat gesoek was vir intimidasie, aangekeer en aan die owerhede oorhandig. Nog ’n verdagte is op die dak van ’n huis opgemerk. Hy is ook aangekeer en aan die owerhede oorhandig voor hy enige misdaad kon pleeg.
Buurtwaglede neem deel aan gesamentlike aksies
Die Pionier-tak se buurtwag het gedurende September aan twee gesamentlike aksies deelgeneem om onderlinge samewerking tussen verskeie plaaslike veiligheidsrolspelers te bevorder. Een van dié aksies was spesifiek daarop gemik om kabeldiefstal in Lynnwoodrif te voorkom.
Paaie beveilig
Buurtwaglede het ook gedurende September in drie verskillende gevalle gehelp om paaie in die gemeenskap te beveilig.
In een geval het die buurtwag bystand verleen om ’n ongelukstoneel in Pretoriaweg in Silverton te beveilig. In nog ’n geval het daar, ná ’n storm in dié gebied gewoed het, ’n boom in Watermeyerstraat – ’n belangrike hoofroete na die N4-snelweg – omgeval en in die pad geland. Buurtwaglede het hier ingespring om die boom op te sny en van die toneel te verwyder.
In ’n eienaardige geval het ’n persoon, wat vermoedelik onder die invloed van dwelms was, langs die pad begin ontklee. Die buurtwag het weereens ingegryp. “Die situasie het ’n gevaar vir motoriste ingehou en gedreig om die verkeer te ontwrig. Ons buurtwaglede het op ’n verantwoordelike wyse die persoon gehelp en die situasie gestabiliseer,” sê Cory.
Cory sê hierdie voorvalle is ’n bewys van die belangrike rol wat die AfriForum Pionier-tak in die gemeenskap vervul. “Ons taklede is bereid om vinnig op te tree wanneer inwoners hulp benodig en om saam met sekuriteitsmaatskappye, veiligheidsforums, nooddienste, wetstoepassingsowerhede en ander gemeenskapsrolspelers te werk. Ons glo dat ’n veilige gemeenskap slegs moontlik is wanneer inwoners en veiligheidsrolspelers saamstaan. Die Pionier-tak sal voortgaan om sigbaar betrokke te wees, hulp te verleen waar moontlik en ’n aktiewe rol te speel in die beveiliging en ondersteuning van ons gemeenskap,” sluit Cory af.



