AfriForum beteken dringende hofstukke terwyl Emfuleni se rioolkrisis voortduur
AfriForum verskerp sy stryd teen Emfuleni se voortslepende rioolbesoedeling nadat die burgerregteorganisasie dringende hofstukke aan nege respondente beteken is, waaronder aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Vaal Corporation Water Utility en die Departement van Water en Sanitasie.
Die dringende aansoek volg op AfriForum se formele eis in Julie, waarin die munisipaliteit tyd gegun is om op te tree om die rioolstortings te beperk, die betrokke infrastruktuur te herstel en behoorlik te bedryf, én ’n noodaksieplan voor te lê. Die munisipaliteit het versuim om binne die vasgestelde sperdatum te reageer. In plaas daarvan is ’n brief, wat 29 Julie gedateer is, eers deur AfriForum se prokureurs ontvang nadat die dringende hofaansoek reeds beteken is.

Die munisipaliteit se reaksie op die krisis bevat beduidende erkennings, waaronder dat die langdurige stilstand van die rioolpompstasies tot ’n oorloop gelei het, welwetende dat dit die omgewing kon besoedel. Die munisipaliteit se brief aan AfriForum het verder aangedui dat verskeie pompstasies, waaronder pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, Vereeniging, op 21 Julie weer in werking gestel is.
Nadat AfriForum die munisipaliteit se terugvoer ontvang het, het ’n verteenwoordiger van AfriForum pompstasie 8 geïnspekteer en waargeneem dat ’n sterk stroom riool steeds uit die mangat in die rigting van die stroom vloei. Bewyse is bekom en sal aan die hof voorgelê word.
“Die munisipaliteit hou vol dat die probleem onder beheer is, terwyl AfriForum se eie bewyse toon dat rou riool steeds vloei. ’n Rioolkrisis kan nie deur wensdenkery opgelos word wanneer die werklikheid is dat riool steeds ons waterweë bereik nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.
“AfriForum het die munisipaliteit die geleentheid gegee om op te tree, maar hulle het versuim om dit te doen. Hierdie dringende aansoek sal nie bloot verdwyn op grond van beloftes wat op papier gemaak word terwyl die besoedeling op grondvlak voortduur nie.”
AfriForum se dringende aansoek plaas ook die kollig vierkantig op Vaal Corporation Water Utility, die spesialedoelentiteit wat gestig is om die streek se water- en sanitasiekrisis aan te pak. AfriForum se standpunt is dat hierdie entiteit nou aanspreeklik gehou moet word om sy mandaat uit te voer.
“Dit is uiters kommerwekkend dat hierdie nuwe entiteit klaarblyklik versuim het om, sedert dit operasioneel geword het, betekenisvol in te gryp om die voortdurende rioolvloei te stop. Daar kan nie van die gemeenskap verwag word om toe te kyk hoe ’n nuwe instelling gestig en befonds word en ’n spesifieke mandaat ontvang, terwyl rou riool steeds in ons waterbronne invloei nie. Indien Vaal Corporation Water Utility nie in staat is om die werk te doen waarvoor dit gestig is nie, sal AfriForum die hof vra om die entiteit te verplig om sy verpligtinge na te kom,” sê Grobbelaar.
AfriForum het voorheen drie strafregtelike klagtes rakende die voortslepende rioolkrisis teen onder meer die munisipaliteit aanhangig gemaak. Die hofverrigting sal na verwagting op 1 September voortgaan.
“Die mense van die Vaaldriehoek is nie tweedeklasburgers wat bloot vuil water, rioolbesoedeling en vervalle infrastruktuur moet aanvaar nie. Ons het dieselfde grondwetlike regte as elke ander Suid-Afrikaner. Ons is moeg daarvoor dat staatsinstellings verantwoordelikheid van die een entiteit na die ander verskuif terwyl die riool aanhou vloei. Die munisipaliteit sê die een ding, die waterverskaffer het sy mandaat en die departement het sy verantwoordelikhede, maar intussen bly die Vaalrivier die prys betaal.”
AfriForum sal die hof versoek om dringend in te gryp en die verantwoordelike entiteite te verplig om betekenisvolle stappe te doen om die besoedeling te beëindig, ’n herhaling daarvan te voorkom en die betrokke afvalwaterinfrastruktuur behoorlik in stand te hou en te bedryf.
AfriForum doen ook ’n beroep op inwoners, eiendomseienaars, ondernemings en almal wat deur die rioolbesoedeling geraak word om die dringende hofaansoek te ondersteun deur die organisasie se petisie te onderteken en te deel.



