| | |

MidWit-buurtspan verwyder bykans 300 sakke vol gemors om dié twee dorpe skoon te hou

AfriForum se MidWit-buurtspan, verbonde aan AfriForum se takke in Middelburg en eMalahleni (voorheen Witbank), het in Mei meer as nege hektaar se gras in verskeie parke in dié twee Mpumalanga-dorpe gesny en opgeruim.

In Middelburg het die span gefokus op die parkies in onderskeidelik Pongolarylaan, Sterkspruitstraat, in Olifantstraat oorkant Middelburg Primary School, Springboklaan en op die hoek van Tamarisk-laan en Vygiestraat. Nadat die parke opgeruim is, is meer as 130 vullissakke verwyder. Heelwat hiervan was rommel, spuitnaalde en ander gemors wat vermoedelik deur dwelmverslaafdes agtergelaat is.

“Hierdie span doen veel meer as net opruimingswerk – hulle speel ’n aktiewe rol om die verval van Middelburg teen te werk. Die agteruitgang van die dorp is duidelik sigbaar met dwelmverslaafdes wat openbare parke beset en beskadig. Deur hierdie parke skoon, veilig en netjies te hou, word ongewenste aktiwiteite ontmoedig en word daar stelselmatig gewerk om die verval van die dorp om te keer,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se tak in Middelburg.

In eMalahleni het die span gefokus op die ingang na die Witbank-gholfklub in Lukinstraat. In Gordon-rylaan, Worcesterstraat, Monastraat, Nitalaan en die parkie in Ritastraat is lang gras gesny en opgehark. Tydens hierdie projekte is 140 vullissakke vol gras en rommel bymekaargemaak en verwyder.

“Die span is besig om ’n tasbare verskil in Witbank te maak. Gemeenskapslede spreek gereeld hul waardering uit deur die span vriendelik te groet en hulle soms met verversings te bederf. Dis ’n bewys dat inwoners ’n daadwerklike verbetering in hul omgewing wil sien. Uiteindelik is dit sigbare, volhoubare verandering wat sal help om die dorp se uitdagings die hoof te bied en trots in die gemeenskap te herstel,” sê Sarel Van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

AfriForum se MidWit-buurtspan het alreeds begin met slaggatherstel in Middelburg en eMalahleni. Inwoners word versoek om die span se werksaamhede op die Facebook-blaaie AfriForum Witbank en AfriForum Middelburg dop te hou.

Sluit aan en raak betrokke by jou naaste AfriForum tak: Besoek www.wordlid.co.za.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf