| |

Beveilig jou sonkragstelsel só 

Sonpanele op dakke van Suid-Afrikaanse huise het ’n algemene verskynsel geword soos beurtkrag ’n groter en groter probleem begin raak het. Alhoewel ’n sonkragstelsel heelwat voordele vir ’n huishouding inhou, is daar volgens Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, ook bepaalde risiko’s wat eienaars in gedagte moet hou én eenvoudige stappe wat gevolg kan word om dié risiko’s tot ’n minimum te beperk.

Die eerste ding om van seker te maak is dat ’n gekwalifiseerde persoon jou stelsel volgens toepaslike regulasies installeer. Gebruik gehalte komponente van betroubare vervaardigers – selfs al kos dit ’n bietjie meer. Gehalte toerusting is minder geneig om onklaar te raak en brande te veroorsaak. Ná afloop van die installasie moet ’n sertifikaat van voldoening (certificate of compliance of COC) uitgereik word.

Wenke vir die installasie van sonkragstelsels:

  • Maak seker die sonpanele het goeie ventilasie.
  • Los genoeg ruimte tussen die sonpanele en die dak om die risiko van ’n paneel wat vlamvat en die brand na die huis laat versprei, te verminder.
  • Installeer ’n skakelaar tussen die panele en enige litiumioonbattery sodat die elektrisiteit afgeskakel kan word indien ’n sonpaneel aan die brand sou slaan.
  • Skaf ’n brandblusser aan wat geredelik beskikbaar is om ’n brand te blus.

Dit is belangrik om ’n sonkragstelsel gereeld na te gaan om seker te maak alles funksioneer soos dit moet. Onderdele wat beskadig is, kan die risiko van ’n brand verhoog en moet dadelik vervang word.

Cooks raai eienaars ook aan om ’n noodplan op te stel en in te oefen sodat elkeen in die huishouding weet wat om te doen sou die sonkragstelsel aan die brand slaan. In so ’n geval moet die gesin se veiligheid geprioritiseer word.

Cooks verduidelik: “Skakel die brandweer onmiddellik en onthou om die soort brand aan te meld. Verskaf jou adres en telefoonnommer aan die brandweer. As dit veilig is, kan die sonpanele ontkoppel word van die kragbron. Moenie water gebruik om die brand te probeer blus nie, aangesien water elektrisiteit gelei.”

Litiumioonbatterye, wat dikwels saam met sonkragstelsels geïnstalleer word, hou baie voordele in, maar as dit aan die brand sou slaan, versprei die brand vinnig, dit brand langer, veroorsaak ’n digte rook en die batterye kan selfs ontplof. Hierdie batterye moet dus verkieslik in ’n losstaande gebou – nie die motorhuis of woonhuis nie – geïnstalleer word. ’n Brandkombers is die mees effektiewe manier om hierdie soort brand te blus. Hierdie kombers word oor die batterye aangebring en ontplooi self om ’n vuur te smoor.

“As jy nie die regte beskermende kleredrag of toerusting het nie, moet jy liefs nie probeer om self ’n brandende lithiumioonbattery te blus nie,” waarsku Cooks. Die risiko is net te groot en die gifgasse wat tydens die brand vrygestel word, maak dit selfs meer gevaarlik. Daarom raai sy eienaars aan om eerder die huis in so ’n geval te ontruim en dit aan die brandweer oor te laat om die brand te blus.

Ná afloop van ’n brand, hoe klein dit ook al was, moet beskadigde komponente vervang word voor die stelsel weer gebruik word, verduidelik Cooks. En wanneer die stelsel weer in gebruik geneem word, moet dit gemoniteer word om te bepaal of daar dalk nog enige probleme is wat tot verdere risiko’s kan lei.

“Brandvoorkoming begin lank voor die eerste rook of vlamme. Proaktiewe optrede en beplanning is veel beter as om vure dood te slaan. Doen eerder nou die nodige stappe om ’n brand te voorkom as wat jy later spyt is,” sluit Cooks af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid