| | |

AfriForum se mobiele gesondheidsentrum bedien 60 inwoners by drie besoekpunte in Kempton Park

AfriForum se Kempton Park-tak het in September vanjaar deur sy mobiele gesondheidsentrum basiese gesondheidsdienste aan 60 inwoners by drie besoekpunte gelewer. Die gereelde besoeke bring verpleegkundige sorg nader aan inwoners, veral bejaardes wat dit moeilik vind om vir basiese gesondheidskontroles te reis.

Die sentrum het op 15 September Lenitas-aftreeoord, op 16 September die NG Kerk Birchleigh en op 24 September Allen Park besoek. Die tak het die mobiele gesondheidsentrum in 2020 geopen en bied steeds maandeliks dienste op verskillende plekke in die gemeenskap aan.

“Wanneer ons mense by hul woonplek kan besoek, is dit makliker om gereeld hul gesondheid na te gaan. Soms begin die nodige hulp met iets so eenvoudig soos ’n bloeddrukmeting of ’n gesprek wat wys dat iemand verdere mediese aandag nodig het,” sê Lucy Verbeek, verpleegkundige by die gesondheidsentrum.

Die diens sluit basiese verpleegkundige ondersteuning en gesondheidskontroles in. Waar nodig, beveel die verpleegkundige aan dat ’n inwoner verdere mediese aandag kry.

Die gesondheidsentrum besoek Lenitas elke derde Dinsdag van die maand van 09:00 tot 11:00 en die NG Kerk Birchleigh elke derde Woensdag van 09:00 tot 10:00. Besoeke aan Allen Park vind ook maandeliks op elke derde Donderdag van 08:00 tot 12:00 plaas.

AfriForum se Kempton Park-tak bedank die instellings en almal wat help om die besoeke moontlik te maak. Inwoners wat meer oor die beskikbare diens wil weet, kan AfriForum vir Wouter Heyneke kontak by 083 228 3633.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf