AfriForum se GOP-kommentaar fokus op begroting, dienslewering in Bloem-omgewing
Die AfriForum-tak in Bloemfontein se kommentaar op die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) fokus vanjaar hoofsaaklik op die munisipaliteit se begrotingsprioriteite, asook die dringende behoefte aan die verbetering van basiese dienslewering in Bloemfontein en die groter Mangaung-gebied.
Volgens AfriForum moet die munisipaliteit se begroting realisties en op dienslewering gerig wees en terselfdertyd ook op die gemeenskap fokus. Die organisasie meen dat voldoende voorsiening gemaak moet word vir die opgradering, herstel en instandhouding van kritieke infrastruktuur, insluitend paaie, stormwaterstelsels, water- en rioolinfrastruktuur, elektrisiteitsnetwerke, openbare ruimtes en afvalbestuur.
“Inwoners moet nie langer die gevolge van gebrekkige beplanning, onvoldoende instandhouding en swak begrotingsprioritisering dra nie. Die munisipaliteit moet sy beskikbare hulpbronne aanwend waar dit die grootste impak op inwoners se daaglikse lewens sal hê,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
’n Belangrike deel van AfriForum se kommentaar handel oor vullisverwydering. AfriForum versoek dat die munisipaliteit AfriForum Dienste in Bloemfontein, waar toepaslik, as ’n gemeenskapsgebaseerde diensverskaffer erken. Dit is veral relevant waar AfriForum of ander private diensverskaffers reeds inspring om noodsaaklike vullisverwyderingsdienste te lewer wanneer die munisipaliteit nie daarin slaag om hierdie diens voldoende te verrig nie. Die organisasie versoek verder dat inwoners en lede wat aansoeke om kwytskelding van vullisverwyderingstariewe ingedien het, behoorlik oorweeg en goedgekeur moet word waar hulle reeds van private vullisverwyderingsdienste gebruik maak. Dit is onbillik dat inwoners ten volle vir ’n munisipale diens moet betaal terwyl hulle terselfdertyd uit eie sak vir dieselfde noodsaaklike diens moet voorsien.
AfriForum versoek verder dat die tariewe vir die gebruik van die vullisterrein hersien word om te verseker dat dit redelik, bekostigbaar en prakties uitvoerbaar bly. Onredelike of onbekostigbare tariewe kan verantwoordelike afvalbestuur ontmoedig en tot onwettige storting bydra. AfriForum meen dat die munisipaliteit se tariefstruktuur verantwoordelike afvalverwydering moet aanmoedig en nie verhinder nie.
AfriForum se Bloemfontein-tak beklemtoon dat die GOP-proses nie bloot ’n administratiewe oefening moet wees nie, maar ’n werklike geleentheid vir inwoners, organisasies en gemeenskappe om insette te lewer oor hoe openbare geld aangewend word.
“Die Mangaung-metro moet sy begroting rig op die herstel van basiese dienste en die instandhouding van noodsaaklike infrastruktuur. Inwoners betaal vir dienste en het die reg om te verwag dat hierdie dienste betroubaar, bekostigbaar en deursigtig gelewer word,” sê Groenewald.
“Waar gemeenskappe en private diensverskaffers reeds help om gapings in dienslewering te vul, behoort die munisipaliteit dit nie te ignoreer nie. Die munisipaliteit moet praktiese samewerking met gemeenskapsinstellings oorweeg en inwoners nie dubbel laat betaal vir dienste wat nie behoorlik gelewer word nie,” sluit Groenewald af.
Die AfriForum-tak in Bloemfontein sal voortgaan om die munisipaliteit se begrotingsproses, tariefstrukture en verpligtinge teenoor dienslewering te moniteer. Die organisasie sal ook aanhou om namens inwoners druk uit te oefen vir verantwoordbare bestuur, beter infrastruktuurbeplanning en billike munisipale tariewe.



