|

AfriForum voed 1 000 verplaaste kinders ná verwoestende storms in Tuinroete

Twee van AfriForum se takke in die Tuinroete het die afgelope twee weke kragte saamgespan om gemeenskappe by te staan wat swaar deur die onlangse verwoestende storms getref is. Die AfriForum-takke in Knysna en George het verskeie noodlenigings- en opruimingsprojekte aangepak om inwoners in nood te ondersteun ná hewige vloede en sterk winde groot skade in dele van die Suid-Kaap veroorsaak het.

Die George-tak het met behulp van AfriForum se noodfonds en in samewerking met Kaapse Forum ongeveer R50 000 se voedsel aan sowat 1 000 kinders in die Blanco-gebied in George verskaf. Hierdie kinders is tydelik verplaas uit onder meer koshuise of plekke van veiligheid nadat die storms die gebied getref en elektrisiteitstoevoer onderbreek het. AfriForum se noodfonds word spesifiek aangewend om gemeenskappe tydens noodtoestande te ondersteun.

“Projekte soos hierdie word slegs moontlik gemaak deur donasies vanuit die gemeenskap. Elke bydrae maak dit vir AfriForum moontlik om nóg projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil in slagoffers van rampe se lewens maak,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum se Knysna-buurtspan het in Rexford en Simola in Knysna, asook in Sedgefield, bome wat omgewaai het in stukke gesaag en uit paaie verwyder. Die buurtspan het later ook op versoek van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit hulp in George gebied deur bome in die gebiede Geelhoutboom, Heatherpark, Heatherlands en Bodorp te verwyder.

“AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe weerbaar te maak teen die impak van verwoestende rampe. Ons moedig daarom die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak of ’n donasie aan die noodfonds te maak sodat ons die volgende gemeenskap in nood kan help,” sluit Erasmus af.

AfriForum se noodfonds stel die burgerregteorganisasie in staat om onmiddellik en doelgerig te reageer wanneer gemeenskappe deur rampe soos veldbrande of vloede getref word. Anders as die regering, wat dikwels versuim om rampfondse betyds en deursigtig beskikbaar te stel, verseker AfriForum dat elke sent verantwoordelik en doelmatig aangewend word waar dit die nodigste is.

Lede van die publiek wat ’n bydrae tot AfriForum se noodfonds wil maak, kan ’n donasie maak by:

Bank:                         Eerste Nasionale Bank (FNB)
Rekeninghouer:        AfriForum MSW
Takkode:                    261550
Rekeningnommer:   623 498 98 398
Verwysing:                Vloede

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid