Nuwe radiokommunikasienetwerk van onskatbare waarde tydens onlangse ontvoering
AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag verwelkom het op Sondag 28 Junie suksesvol saam met verskeie veiligheidsrolspelers gewerk om twee ontvoerde slagoffers binne 98 minute met hul geliefdes te herenig.
Die buurtwag het om 19:21 ’n noodboodskap oor sy nuutgestigte radiokommunikasienetwerk vanaf ProSec ontvang dat twee lede van die gemeenskap in Karenpark gekaap en ontvoer is.
Danksy die doeltreffende radioverbinding kon die inligting binne sekondes aan alle relevante rolspelers versprei word. Die buurtwag het onder meer GAC en Maximum Security onmiddellik in kennis gestel, waarna die gekaapte voertuig agternagesit is.
Gedurende die operasie het een AfriForum-buurtwaglid gehelp om die toneel te beveilig, terwyl drie ander buurtwaglede voortdurend kritieke inligting oor die radionetwerk deurgegee het om reaksiespanne op die korrekte roete te hou.
Teen 20:59 is beide slagoffers asook hul voertuig in Soshanguve teruggevind. Tydens die operasie is daar ook beslag gelê op nóg ’n gesteelde voertuig wat deur die verdagtes gebruik is, asook drie vuurwapens. Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem.
Hierdie voorval beklemtoon die enorme waarde van betroubare radiokommunikasie tydens noodsituasies. Waar sekondes dikwels die verskil tussen lewe en dood kan beteken, verseker ’n toegewyde radionetwerk dat kritieke inligting onmiddellik gedeel word, sonder die beperkings wat selfoonnetwerke dikwels tydens krisisse ervaar.
Dié sukses is besonder betekenisvol aangesien dié radiokommunikasienetwerk slegs enkele dae gelede amptelik in gebruik geneem is. Dat die netwerk reeds binne sy eerste dae só ’n deurslaggewende rol in ’n ernstige misdaadvoorval kon speel, bevestig die waarde van deeglike voorbereiding, samewerking en moderne kommunikasie.
Hierdie sukses volg kort nadat nóg ’n gesteelde voertuig gedurende die afgelope week met behulp van dieselfde radiokommunikasienetwerk opgespoor is. Dit beteken dat die nuwe radionetwerk reeds binne sy eerste week ’n deurslaggewende rol gespeel het in die terugvind van twee gesteelde voertuie, die redding van twee ontvoerde slagoffers en die inhegtenisneming van verdagtes. Die resultate spreek vanself en bevestig dat om te belê in effektiewe kommunikasie direk bydra tot veiliger gemeenskappe.
“Hierdie is ’n uitstekende bewys dat misdaad nie net met mense bekamp word nie, maar met kommunikasie. Wanneer buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en reaksiespanne onmiddellik met mekaar kan skakel, word reaksietyd drasties verkort en verbeter dit die kans om slagoffers veilig terug te kry en verdagtes aan die gereg oor te lewer. Ons radio-inisiatief is nog in sy kinderskoene, maar lewer reeds tasbare resultate,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder en woordvoerder vir Pretoria.
AfriForum se Noord van die Berg-tak bedank ProSec, GAC, Maximum Security en alle ander rolspelers wat aan die operasie deelgeneem het. Hierdie voorval bewys opnuut dat sterk vennootskappe en doeltreffende kommunikasie gemeenskappe veiliger maak en dat samewerking die sleutel tot suksesvolle misdaadbekamping bly.



