| | |

AfriForum se Stilfontein-tak herstel meer as 100 slaggate om Laerskool Driefonteine

Die AfriForum-tak in Stilfontein het op 19 Mei in samewerking met Pieter du Preez, die raadslid van wyk 30, sy komitee, asook werkers van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit begin om slaggate om Laerskool Driefonteine te herstel. Die AfriForum-tak, raadslid en komitee het die projek op 20 Mei voortgesit en tydens hierdie twee dae altesaam 6,4 ton teer gebruik om in Hartsstraat ’n gedeelte van dié 590 meter lange pad 180 slaggate te herstel.

Omdat skole vir AfriForum na aan die hart lê, fokus die organisasie op die paaie om skole om dit vir ouers moontlik te maak om hul kinders veilig na en van die skool te vervoer. Die tak beplan om hierdie projek maandeliks aan te pak. Omdat die strate in ’n swak toestand is, kos hierdie teerprojek baie geld. Die tak neem dus vrymoedigheid om vir die Stilfontein-gemeenskap te vra vir donasies om hierdie projek volhoubaar te kan doen.

“Die strate in Stilfontein is werklik in ’n haglike toestand met hierdie projek wat alreeds ’n groot verskil in die dorp maak. Die gemeenskap se samewerking sal dus hoog op prys gestel word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Frans Marx, die skoolhoof aan die Laerskool Driefonteine, het AfriForum in ’n brief bedank vir die organisasie se hulp om die paaie om die skool te herstel. “[AfriForum se] bereidwilligheid om betrokke te raak en hulp te verleen, dra nie net by tot die netheid en veiligheid van ons skoolomgewing nie, maar maak ook ’n groot verskil aan almal wat daagliks die area gebruik. Sulke ondersteuning en gemeenskapsbetrokkenheid word opreg waardeer,” sê Marx.

Jonathan Fourie, voorsitter van die AfriForum-tak in Stilfontein, doen ’n beroep op die gemeenskap om n finansiële bydrae tot die tak se slaggatprojek te maak. “Die koste van materiaal en arbeid is hoog, daarom sal elke donasie welkom wees om hierdie projek n  hupstoot te gee en ’n daadwerklike verskil in die dorp te maak,” sluit Fourie af.

Om by die tak betrokke te raak of om ’n donasie te maak, kontak Fourie by 082 776 4813.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf