| | |

Tshwane-metro kan nie meer bekostig om hulp te weier nie – AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag opnuut sy hulp aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit aangebied ten opsigte van die beveiliging van substasies in dié metro. Dit volg op deurlopende gevalle van vandalisme en diefstal by substasies oor die Tshwane-metro heen.

AfriForum meen dat hy begrip het vir die metro se prosedurele en operasionele uitdagings ten opsigte van die beveiliging van kern infrastruktuur, maar is van mening dat dit juis die rede is waarom die  metro nie meer kan bekostig om hulp van die hand te wys nie.

Die metro se onwilligheid om saam met organisasies soos AfriForum te werk laat vrae ontstaan oor of die metro werklik besorg is oor inwoners wat vir dae lank sonder krag gelaat word en of hulle werklik iets aan hierdie probleem doen.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, het AfriForum op ’n vorige geleentheid hulp aangebied om veiligheidskameras by ’n substasie in Garsfontein op te rig op die organisasie se onkoste. “Die metro het dit goedgekeur, maar toe ons span op die ooreengekome dag by die substasie aankom is hulle toegang tot die perseel geweier. Dit beteken nie veel as hulp aanvaar word, maar enige pogings om dit uit te voer word steeds in die wiele gery nie.”

Hemmens volstaan egter dat die organisasie steeds, ter wille van die inwoners van dié metro, graag saam met die metro wil werk om verandering en verbetering teweeg te bring.

“Ons het die kundigheid en hulpbronne en ons is bereid om self die kostes te dra vir die projekte wat ons uitvoer, al wat ons kort is die Tshwane-metro se bereidwilligheid om vir ons toegang te gee tot van hierdie kern infrastruktuur sodat ons dit kan beveilig.”

Hy sê voorts dat die metro behoort te besef dat hulle versuim om self hierdie infrastruktuur te beveilig en gewillige organisasies die geleentheid om te help te ontsê verreikende gevolge vir die gemeenskap asook die metro self het. “Die metro moet miljoene spandeer om aanhoudende skade te herstel wat eerder op dienslewering spandeer kon word. Intussen sit huishoudings sonder krag en ondernemings verloor geld, daarmee saam kom die veiligheids- en ekonomiese impak nog by.”

AfriForum doen dus ’n beroep op die metro om met die organisasie te vergader sodat daar saam gekyk kan word na werkbare oplossings.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf