Working on Fire
| |

AfriForum bevraagteken en eis deursigtigheid oor nuwe Working on Fire-tender

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans) (1)
Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans) (2)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels) (1)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels) (2)


AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing ingedien om volledige deursigtigheid te verkry rakende die onlangse toekenning van die Working on Fire-program se tender.

Hierdie aansoek fokus spesifiek op die tenderdokumentasie wat verband hou met die aanstelling van die nuwe diensverskaffer, Tefla Group, sowel as die vorige tender van Khisugu JV, wat die Working on Fire-program vir die afgelope paar jaar bestuur het.

Die Working on Fire-program speel ’n kritieke rol in Suid-Afrika se veldbrandbestuur. Veldbrande is ’n hoogs gespesialiseerde en tegniese veld en dit is noodsaaklik dat slegs ervare en bevoegde diensverskaffers vir hierdie tipe werk aangestel word. Die verkeerde aanstelling kan verreikende gevolge hê vir gemeenskappe, die omgewing en die ekonomie. ’n Groot hoeveelheid brandbeskermingsverenigings maak gebruik van Working on Fire gedurende die veldbrandseisoen in Suid-Afrika om brande te blus en voorbrande te maak.

AfriForum is veral bekommerd oor die aanstelling van Tefla Group, aangesien dit onder die organisasie se aandag gekom het dat dié maatskappy in 2023 ’n kontrak van die Garden Route-distriksmunisipaliteit ontvang het vir die ontwikkeling van ’n vullisterrein in Mosselbaai. Hierdie kontrak is egter in Junie 2025 deur die Garden Route-munisipaliteit gekanselleer weens stadige vordering en die onvermoë om die diens te lewer.

“Dit wek ernstige kommer dat ’n maatskappy wat reeds ’n geskiedenis van swak prestasie toon met ’n tender van ongeveer R1,8 miljard toevertrou word vir ’n kritieke nasionale program wat veronderstel is om gemeenskappe te help, maar hulle nou moontlik kwesbaar laat,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

Veldbrande in Suid-Afrika vererger jaarliks en lei tot grootskaalse eiendomskade, asook die verlies van menselewens en vee.

“Die gemeenskap het die reg om te weet hoe ’n tender toegeken word aan ’n maatskappy, wat so ’n kritieke diens lewer, en of sodanige maatskappy die kennis, besluitnemings- en hulpbronvermoë het om gemeenskappe tydens veldbrande te kan ondersteun,” sluit Cooks af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid