|

AfriForum-buurtwag slyp vaardighede om Mpumalanga-plase te beveilig

Plaasveiligheid lê AfriForum se 178 buurt- en plaaswagstrukture na aan die hart, daarom het ’n buurtwag in Mpumalanga die afgelope naweek tydens die organisasie se derde landswye massapatrollie vir die jaar onder meer plaasaanvalle gesimuleer om seker te maak dat hulle gereed is om plase in dié provinsie te beveilig.

Die gekoördineerde landswye massapatrollie was daarop gemik om sigbare patrollering te verhoog, samewerking met verskillende veiligheidsrolspelers te versterk en AfriForum se veiligheidstrukture se paraatheid te toets.

Altesaam 12 lede van AfriForum se Nelspruit-buurtwag het ’n plaasaanval gesimuleer en ingeoefen hoe lede op só ’n scenario moet reageer. Die simulasie het onder meer die reaksie van die buurtwaglede getoets, hoe doeltreffend hul radiokommunikasie is, hul koördinering van hommeltuie en hul gebruik van nagsigtoerusting.

Twee van die buurtwaglede het in die scenario as die aanvallers opgetree, een was die slagoffer, twee was die buurtwaglede wat eerste op die toneel gereageer het, een was die hommeltuigoperateur en ses lede was die aanvullende magte wat eers later ontbied is.

Om die scenario meer realisties te maak kon die buurtwaglede nie hul selfone gebruik nie, maar slegs van radio- en nagsigtoerusting gebruik maak. Die scenario was ook so opgestel dat die vermeende aanvallers steeds in die gebied was en dat buurtwaglede ’n dam en ’n bebosde gebied moes trotseer om die aanvallers op te spoor.

Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, sê die buurtwaglede se koördinering met die hommeltuigoperateur en hul gebruik van nagsigtoerusting het daartoe gelei dat hulle een van die verdagtes kon vastrek.

“Die buurtwaglede het met hierdie oefening waardevolle lesse geleer oor hoe om ’n toneel te nader as hulle die eerste persone is om ’n toneel te betree, asook hoe om verdagtes deur middel van nagsig en van ’n afstand af op te spoor. Die lede het boonop geleer hoe om ’n vinnige kaartwaardering van die area te doen om die verdagtes se moontlike ontsnappingsroetes te bepaal,” sê Van Heerden.

“AfriForum se Nelspruit-buurtwag het hierdie geleentheid gebruik om hul reaksievermoë te toets, asook hoe om die hulpbronne en opleiding te gebruik wat hulle ontvang het. Hierdie tipe oefeninge stel ons buurtwagte in staat om doeltreffend te reageer, daarom sal AfriForum voortgaan om lede te ondersteun deur die regte opleiding, toerusting en bystand aan hulle beskikbaar te stel.”

Duisende kilometers afgelê

Die buurtwagte wat nie gebeurlikheidsplanne of simulasies ingeoefen het nie, het tydens hierdie massapatrollie hul woonbuurte beveilig deur sigbare patrollies te doen. Altesaam 60 lede van sewe buurtwagte in die Hoëveld het met 22 voertuie dele van Mpumalanga deur die aand gepatrolleer. Dié buurtwaglede het oor die naweek altesaam 1 945 km se patrollies gery.

Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Limpopo en Mpumalanga, sê hierdie sigbare patrollies het verseker dat daar geen ernstige insidente plaasgevind het nie. In Piet Retief was die buurtwag wel ontbied nadat ’n persoon glo as vermis aangemeld is. Dié buurtwag het in samewerking met ander privaat veiligheidstrukture daarin geslaag om die persoon binne 30 minute op te spoor.

“Gemeenskapsveiligheid begin by die vrywilligers wat elke dag hul onmiddellike omgewing help beveilig. Hierdie nasionale patrollie gee die geleentheid om landswyd die impak van buurtwagte en georganiseerde gemeenskappe ten toon te stel,” sê Bekker.

Klik hier om vandag nog by een van AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid