Water, kraan, kraanwater
| | |

AfriForum se Standerton-tak verseker dat belangrike werk voortgaan ondanks wateronderbrekings

AfriForum se Standerton-tak voorsien sedert Februarie tot nou water aan die gemeenskap te midde van die voortslepende wateronderbreking wat tans plaasgevind. Boonop laai die tak daagliks water by huise af waar die inwoners nie in staat is om dit self te gaan haal of vervoer nie. So ook word groot hoeveelhede aan onder meer ’n diereskuiling en die dialise-sentrum gelewer sodat noodsaaklike werk en ondersteuning kan voortgaan. Soos vele ander kere die afgelope maand, was die tak genoodsaak om Dinsdagoggend al skuins voor 02:30 die dialise-sentrum se JoJo-tenks op te vul.

In ’n brief wat AfriForum Dinsdag aan die Departement van Water en Sanitasie in Mpumalanga gestuur het, eis die organisasie dringende ondersoek na verskeie wateronderbrekings in die provinsie. Buiten Standerton, word Bethal en ander dorpe ook deur die onderbreking geraak.

“Ons kan nie toelaat dat die dialise-sentrum se lewensbelangrike taak gekniehalter word weens die wateronderbrekings nie. Mense se lewens hang hiervan af en ons moet verseker dat hulle daagliks water het om hierdie noodsaaklike prosedure voort te sit. Dieselfde geld vir diereskuilings,” sê Leon Enslin, voorsitter van die AfriForum-tak in Standerton.

Verder het die Standerton-tak gedurende Februarie bome in die dorp gesnoei nadat oorgroeide bome die kragnetwerk onstabiel gelaat en veroorsaak het dat gereelde kragonderbrekings plaasvind.

Daar is ook twee groot slaggate op die R39 en R546 herstel. Hierdie twee slaggate het al menigte male motorongelukke veroorsaak omdat motoriste in ander bane in uitswaai om die gate te vermy.

“Ons wil verseker dat padgebruikers nie onnodige skade aan hul voertuie opdoen nie en dat hulle die paaie veilig kan gebruik,” sluit Enslin af.

Sluit aan en raak betrokke by die tak, besoek: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf