Onderrig, education, school, skool
|

Swartruggens Gekombineerde Skool wys duiwel in die detail van die Bela-wet

Alana Bailey (Afrikaans)

AfriForum waarsku dat die Noordwes-onderwysdepartement se verontagsaming van ’n dringende tussentydse hofinterdik bewys waarom dié organisasie so sterk teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, beter bekend as die Bela-wet, gekant is. Die interdik het gevolg nadat die onderwyshoof van Noordwes 78 Engelse leerders in die Afrikaanse Swartruggens Gekombineerde Skool geplaas het en gedreig het om die skool se taal- en toelatingsbeleid sonder instemming van die skool se beheerliggaam te wysig.

Volgens die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat die skool se beheerliggaam bystaan, was hierdie saak die eerste om die Bela-wet te toets. Hoewel die hof die interdik teen die departement se optrede toegestaan het, het laasgenoemde nog nie een van die sperdatums wat die hofbevel gestel het, gehaal nie. Die skool en Fedsas dreig die departement nou met ’n aansoek om minagting van die hof.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat hierdie gebeure die gevaar van die Bela-wet duidelik illustreer. Diegene wat ten gunste van die wet was, het as verweer aangevoer dat enige probleme bloot met regsaksie uitgesorteer kan word, maar het nie in ag geneem dat die betrokke departemente blatant hofbevele kan ignoreer nie. “Terwyl die skole en ondersteunende instellings soos Fedsas met die koste, tyd en moeite opgeskeep sit, en die betrokke kinders se onderrig in die gedrang kom, tree die amptenare op soos hulle wil,” sê sy.

Verlede week het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, aan die Nasionale Raad van Provinsies se staande komitee oor Onderwys verslag gelewer oor die inwerkingstelling van die wet. Sy het ook verdere konsepregulasies vir die implementering daarvan in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie regulasies handel oor die verkiesing en bedrywighede van skoolbeheerliggame, staatsonderwysersbetalings, standaarde vir provinsiale onderwysontwikkelingsinstitute en die nasionale onderwysinligtingstelsel. Openbare insette met betrekking tot regulasies vir skole se toelatingsbeleide word nog verwerk voordat die finale weergawe gepubliseer word. Die konsepregulasies vir skole se taalbeleide word nog afgewag.

Bailey beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat alle belanghebbendes voor 5 September 2026 kommentaar op die jongste konsepregulasies moet lewer en dat skole die optrede van provinsiale onderwyshoofde wat leerders se veiligheid en gehalte onderrig bedreig, soos in die geval van Swartruggens Gekombineerde Skool, sal teenstaan. AfriForum is gereed om skole met advies in dié verband by te staan. Navrae kan gestuur word aan onderwys@afriforum.co.za.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners