AfriForum daag laerskole uit om met Blink-of-stink-herwinningskompetisie ’n verskil te maak – één plastiekbottel op ’n slag
AfriForum skop vandag ’n splinternuwe herwinningsinisiatief af wat daarop gemik is om een plastiekbottel op ’n slag ’n kultuur van herwinning, gesonde mededinging en ’n verantwoordelikheidsin ten opsigte van omgewingsbewaring by skoolkinders te vestig. Die Blink-of-stink-herwinningskompetisie word vanjaar vir die eerste keer aangebied en twee Rustenburgse laerskole en drie Potchefstroomse laerskole sal meeding om later vanjaar met die Blink-of-stink-titel weg te stap.

Die Blink-of-stink-herwinningskompetisie word aangepak deur die burgerregteorganisasie se afdeling vir Omgewingsake. Dié afdeling is reeds bekend vir toonaangewende omgewingsprojekte soos die jaarlikse AfriForum-vullisterreinoudit en AfriForum se jaarlikse Watergehaltewaarnemingsverslag (voorheen bekend as die Blou-en-groendruppelverslag).
Leerders van Laerskool Proteapark en Laerskool Dawid Brink in Rustenburg en Laerskool Mooirivier, Laerskool Baillie Park en Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom het die uitdaging aanvaar om aan die eerste Blink-of-stink-herwinningskompetisie deel te neem. Dié skole sal oor die volgende 10 weke soveel moontlik plastiekbottels vir herwinning insamel en sodoende nie net plastiekafval uit die omgewing verwyder nie, maar ook leer dat klein, daaglikse besluite ’n groot verskil aan hul gemeenskap en die natuur kan maak.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, speel herwinning ’n kritieke rol in die verligting van druk op die land se vullisterreine én beskerm waardevolle natuurlike hulpbronne.
“Blink-of-stink gaan oor baie meer as net plastiekbottels. Dit gaan daaroor om by leerders ’n kultuur van verantwoordelikheid en omgewingsbewustheid te vestig,” verduidelik De Vaal. “Wanneer leerders leer om te herwin, leer hulle ook om na hul skool, hul gemeenskap en die natuur om te sien. Ons glo dat hierdie gewoontes reeds op laerskoolvlak gevestig moet word, sodat dit deel van hul daaglikse roetine kan word. Met hierdie projek leer kinders ook op ’n tasbare wyse dat elke bottel wat ingesamel word, deel vorm van ’n groter oplossing om besoedeling te verminder, hulpbronne te bespaar en skoner, gesonder gemeenskappe te skep,” sê De Vaal.
Die skool wat teen die einde van die kompetisie die meeste plastiekbottels ingesamel het, sal wegstap met R30 000 kontant en die gesogte Blink-of-stink-titel vir 2026.
AfriForum doen ’n beroep op ouers, onderwysers en gemeenskappe om die deelnemende skole te ondersteun deur herwinbare plastiekbottels bymekaar te maak en leerders aan te moedig om aktief aan die kompetisie deel te neem.
Vir meer inligting oor die Blink-of-Stink-herwinningskompetisie of AfriForum se omgewingsprojekte, besoek gerus www.afriforum.co.za.



