|

Byna 300 debatteerders stoei sake uit in Gautengse been van Dink of Sink-debatskompetisie

Altesaam 294 hoërskoolleerders in 48 junior en 50 senior debatspanne van 15 hoërskole het sake verlede week behoorlik uitgestoei tydens die Gautengse been van AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie. Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se Span 1 het in die junior kategorie koning gekraai, terwyl Span 1 van Hoërskool Waterkloof die senior kategorie gewen het. Hoërskool Ermelo se Span 1 en Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria se Span 1 was naaswenners in onderskeidelik die junior en senior kategorie.

Hoërskool Waterkloof se Span 1 is as die wenspan in die senior kategorie (vir graad 10- tot 12-leerders) aangewys. V.l.n.r. is Nicolene Müller (onderwyskoördineerder by AfriForum en organiseerder van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie), Hugo Louw, Elzerie Vermaak, Ivan Louw, Alana Bailey (AfriForum se hoof van Kultuursake) en Marius Lezar (hoof van Hoërskool Montana).
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se Span 1 is as wenners in die junior kategorie (vir graad 8- en 9-leerders) aangewys. V.l.n.r. is Nicolene Müller (onderwyskoördineerder by AfriForum en organiseerder van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie), Liza Marais, Moné Hugo, Mia du Plessis, Alana Bailey (AfriForum se hoof van Kultuursake) en Marius Lezar (hoof van Hoërskool Montana).

Dié provinsiale uitdunronde is op 5 en 6 Augustus by Hoërskool Montana in Pretoria aangebied.

Die junior en senior wenspanne van ses provinsiale uitdunrondes sal aanstaande maand om die nasionale titel meeding wanneer die finaal op 19 September by Akademia se Leriba-kampus in Centurion gehou word.

Die skole wat aan die Gautengse been van die kompetisie deelgeneem het is Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Centurion, Die Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Noordheuwel, Hoërskool Garsfontein, Die Hoërskool Wonderboom, Hoërskool Hartbeespoort, Hoërskool Linden, Helpmekaar Kollege, Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.

Volgens Nicolene Müller, onderwyskoördineerder by AfriForum en organiseerder van dié kompetisie, het elkeen van die 98 spanne wat aan verlede week se uitdunronde deelgeneem het, drie debatte gevoer oor verskeie aktuele kwessies in hul omgewing en die land.

Die kompetisie is daarop gemik om debatvoering in Afrikaans onder skoolleerders en universiteitstudente te bevorder. Dit is egter nie waar dit stop nie, meen Müller. “Die formaat van die kompetisie en die aktuele fokus van die debatte bied ook aan deelnemers die geleentheid om vaardighede te ontwikkel wat hulle ook andersins sal baat en selfs eendag tot voordeel in hul beroepslewe aangewend sal kan word,” verduidelik sy.

Müller hou vol dat die deelnemers aan die Gautengse uitdunronde hul uitstekend van hul taak gekwyt het. “Deelnemers het die debatte met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en doeltreffend te debatteer duidelik na vore gebring.”

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die leerders se toewyding tot hul voorbereiding. Ons sien uit na ’n naelbyt-eindstryd in September wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide hoërskooldebatteerders in die land is,” sluit Müller af.

Die Gautengse uitdunronde was die vierde van ses provinsiale uitdunrondes. Die spanne wat reeds deurgedring het, is soos volg:

  • Junior kategorie: Hoërskool Framesby se Span 2 (Oos-Kaap); Hoërskool Jan van Riebeeck (Wes-Kaap); Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se Span 1 (Gauteng); Hoërskool Nelspruit se Span 1 (Mpumalanga)
  • Senior kategorie: Hoërskool Framesby se Span 3 (Oos-Kaap); Hoërskool Durbanville (Wes-Kaap); Hoërskool Waterkloof se Span 1 (Gauteng); Hoërskool Nelspruit se Span 1 (Mpumalanga)

Die laaste twee uitdunrondes vir hoërskole in Limpopo en die Vrystaat word later hierdie maand afgehandel.

Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria se Span 1 is as naaswenners in die senior kategorie (vir graad 10- tot 12-leerders) aangewys. V.l.n.r. is Nicolene Müller (onderwyskoördineerder by AfriForum en organiseerder van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie), Paul Ralph Smit, James Roets, Alexander Coetzer Kristensen, Alana Bailey (AfriForum se hoof van Kultuursake) en Marius Lezar (hoof van Hoërskool Montana).
Hoërskool Ermelo se Span 1 is as naaswenners in die junior kategorie (vir graad 8- en 9-leerders) aangewys. V.l.n.r. is Nicolene Müller (onderwyskoördineerder by AfriForum en organiseerder van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie), Milan Zwarts, Abigail Zwarts, Layla Smit, Alana Bailey (AfriForum se hoof van Kultuursake) en Marius Lezar (hoof van Hoërskool Montana).

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners