AfriForum bevraagteken wettigheid van Emfuleni se nuwe registrasiefooi vir sonkragstelsels
AfriForum het ’n skrywe aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin die organisasie dringend duidelikheid versoek oor die wetlike en regulatoriese grondslag vir die voorgestelde nuwe heffings wat op huishoudings met kleinskaalse sonfotovoltaïese (PV)-stelsels van toepassing sal wees. AfriForum het verskeie ongerymdhede by die voorgestelde heffings geïdentifiseer en bevraagteken die wettigheid van die munisipaliteit se voorgestelde tarief, wat ’n maandelikse heffing vir residensiële sonkraggebruikers sal insluit.
Die munisipaliteit het onlangs sy planne aangekondig om ’n eenmalige registrasiefooi van R2 400 in te stel, asook ’n maandelikse heffing van R463 vir residensiële sonkraggebruikers. Hierdie voorgestelde heffing het wydverspreide kommer onder inwoners ontlok wat reeds duisende rand in hul sonkragstelsels belê het.
Volgens AfriForum mag munisipaliteite kostes verbonde aan die kragnetwerk verhaal, maar enige nuwe tarief of heffing moet voldoen aan die Grondwet, die Munisipale Stelselswet, die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die toepaslike regulatoriese raamwerk vir elektrisiteit.
Ná ’n ontleding van Emfuleni se voorgestelde Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP), die tariefaansoek wat by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien is en ander openbare beskikbare inligting, het AfriForum verskeie aspekte geïdentifiseer wat die wettigheid van die voorgestelde heffings in twyfel trek. Dit sluit onder meer die oënskynlike afwesigheid van ’n beleidsraamwerk in die GOP in, onsekerheid oor of die nuwe heffings met die munisipaliteit se tariefaansoek aan Nersa strook, die gebrek aan ’n voltooide kostestudie en die skynbare afwesigheid van enige wysigings aan munisipale verordeninge wat die voorgestelde heffings magtig.
AfriForum het die munisipaliteit versoek om die betrokke raadsbesluite, regsmenings, tariefberekeninge, die kostestudie, rekords van openbare deelname en enige korrespondensie met Nersa rakende die voorgestelde sonkragheffings aan die burgerregteorganisasie te verskaf.
“Die munisipaliteit kan nie bloot addisionele heffings instel omdat inwoners besluit het om in wettige sonkragstelsels te belê nie. Voordat inwoners verplig kan word om nuwe heffings te betaal, moet die munisipaliteit bewys dat hierdie heffings regmatig is deur ’n behoorlike koste- ontleding te doen én ’n deursigtige proses van openbare deelname van stapel te stuur. Indien daar nie aan hierdie vereistes voldoen is nie, laat dit ernstige vrae oor die wettigheid van die voorgestelde heffings,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake.
AfriForum bly daartoe verbind om betekenisvolle samesprekings met die munisipaliteit te voer, maar sal voortgaan om die wettigheid van die voorgestelde heffings te ondersoek om te verseker dat inwoners nie aan tariewe onderwerp word wat nie ingevolge die wet ingestel is nie.



