| | |

AfriForum-buurtwag verwyder bome uit paaie tydens erge windstorm in Uitenhage

AfriForum se Mosel-buurtwag in Uitenhage het tydens die onlangse erge windstorm vinnig en doeltreffend gereageer bome wat omgewaai het, uit verskeie paaie te verwyder. Die storm, met ’n windspoed van tot 100 km/h, het wydverspreide ontwrigting reg deur die dorp veroorsaak.

Die buurtwag het met ’n aantal kettingsae nege bome binne vyf uur uit paaie verwyder. Danksy hierdie aksie is belangrike roetes vinnig oopgestel en verkeersvloei slegs minimaal beïnvloed. Die opruiming van ’n groot Akkerboom wat in Markstraat omgeval het, was egter tydelik vertraag toe ’n swerm bye binne die boomstam ontdek is. Een van die buurtwaglede, wat ’n byekenner is, se hulp is ingeroep om die bye te verwyder sodat die opruiming voortgesit kon word.

“Die vinnige aksie van die Mosel-buurtwag het die gemeenskap se veiligheid op die paaie verseker. Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe AfriForum se buurtwagte tydens krisistye reageer om die veiligheid van ons mense en infrastruktuur te beskerm,” sê Minette van der Vyver, leier van AfriForum se Mosel-buurtwag. Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor die Nelson Mandela Metropolitaanse Munisipaliteit se parke-afdeling en die plaaslike brandweer vir hul hulp tydens die opruiming en beklemtoon hoe belangrik samewerking tussen die owerhede en die gemeenskap is.  

Wat hierdie projek egter nog meer noemenswaardig maak, is dat al die lede van AfriForum se Mosel-buurtwag wat hand bygesit het slegs vrywilligers is en dat hulle hul eie werksplekke vir tyd en wyl verlaat het om te kom help. Elke lid het ook hul eie kettingsae, brandstof en tyd bygedra om ’n betekenisvolle verandering te bring.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit en sodoende ’n verskil in die gemeenskap te maak. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf