Ons vir jou
| |

Spring gou! Kaartjies vir Ons vir jou-openingsweek 98% uitverkoop

Met minder as ’n week oor voor die eerste vertoning van Ons vir jou in AfriForum Teater, beleef dié ikoniese musiekspel reeds uitsonderlike belangstelling met meer as 98% van kaartjies vir die openingsweek reeds verkoop.

Hierdie sterk kaartjieverkope bevestig die blywende impak wat Ons vir jou sedert sy eerste opvoering tussen 2008 en 2012 op gehore gemaak het. Die produksie, wat van 29 April weer op die planke te sien is, keer terug in ’n jaar waarin gehore ook 20 jaar vier sedert die vrystelling van De la Rey – Bok van Blerk se ikoniese album wat destyds ’n belangrike inspirasie vir die ontwikkeling van die musiekspel was.

Terwyl die oorspronklike produksie ’n belangrike rigtingwyser vir ’n nuwe era van musiekblyspele was, is daar ook ’n tasbare opgewondenheid rondom die nuwe rolverdeling. Die produksie word gelei deur Bok van Blerk as generaal Koos de la Rey en word onder regie van Jannes Erasmus, wat geen vreemdeling vir AfriForum Teater se verhoog is nie, aangebied. Sy betrokkenheid beloof om ’n vars perspektief na hierdie bekende verhaal te bring.

Volgens Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater, is die belangstelling van die publiek oorweldigend positief: “Die feit dat die openingsweek reeds bykans uitverkoop is, wys hoe diep hierdie storie steeds resoneer. Dit is vir ons ’n voorreg om hierdie produksie weer met gehore te kan deel by die tuiskomplek van Afrikaanse kunste.”

Die produksie spog ook met ’n grootskaalse stelontwerp deur Wilhelm Disbergen, terwyl AfriForum Teater se bekroonde tegniese span, insluitend Pieter-Louis van Twisk – ’n Naledi-toekenningwenner in 2023, vir ’n meesleurende teaterervaring sorg.

Teatergangers wat nog kaartjies vir die openingsweek wil bekom, word aangeraai om vroegtydig te bespreek om teleurstelling te voorkom.

Besonderhede:

Datum: Van 29 April 2026

Plek: AfriForum Teater, Pretoria

Kaartjies: www.onsvirjou.com

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners