|

Nersa se sonkragplanne al te eenders aan Eskom se registrasiefoefie – AfriForum

Deidré Steffens (Afrikaans)

Eskom se onsuksesvolle pogings om die registrasie van kleinskaalse sonkraginstallasies te laat afdwing, moes as waarskuwing gedien het teen die instelling van onnodige, duur en regtens verdagte vereistes aan sonkraggebruikers. In plaas daarvan het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nou konsepreëls gepubliseer wat munisipaliteite en ander kragverspreiders in staat kan stel om omvattende registers van kleinskaalse sonkraginstallasies op te stel. AfriForum is bekommerd dat hierdie registers uiteindelik gebruik gaan word om nuwe heffings in te stel vir huishoudings, boere en ondernemings wat op eie koste in alternatiewe energie belê het.

Eskom se registrasiefoefie

Eskom se pogings om sonkraggebruikers te kry om hul stelsels te laat registreer het uit die staanspoor gebuk gegaan onder swak openbare deelname, wydverspreide teenkanting en onsekerheid oor die regsgrondslag daarvan. Nadat Eskom aanvanklik duur tegniese vereistes ingestel het, het hy die proses verslap, sy kwytskelding van registrasiefooie tot 30 September 2026 verleng en na bewering bevestig dat residensiële kraggebruikers nie beboet of afgesny sal word indien hulle nie hul stelsels registreer nie. Daar bestaan egter steeds groot onsekerheid vir boere en ondernemings.

Nersa se nuwe registrasiemeganisme

Terwyl Eskom skynbaar wegbeweeg van sekere aspekte van sy registrasievereistes, het Nersa sy konsepreëls vir verspreiders om ’n register te hou van sonkragstelsels met kapasiteite van minder as 100 kW, gepubliseer.

“Die konsepreëls sal vereis dat kragverspreiders, dus munisipaliteite en privaat verspreiders, registers opstel van sonkragstelsels wat minder as 100 kW in hul verspreidingsgebiede opwek. Sonkraggebruikers kan gevolglik verplig word om inligting en ondersteunende dokumentasie oor hul sonkraginstallasies te verskaf,” sê Deidré Steffens, adviseur van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

In die praktyk kan die reëls aan munisipaliteite ’n nasionale regulatoriese meganisme bied waardeur hulle sonkraggebruikers kan verplig om hul stelsels te registreer. AfriForum het op 13 Augustus 2026 formeel kommentaar hieroor by Nersa ingedien.

“Een van AfriForum se vernaamste besware hou verband met artikel 2A(2)(c) van die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006, wat bepaal dat die wet nie van toepassing is op opwekkingstelsels met ’n kapasiteit van hoogstens 100 kW nie. Nersa moet dus verduidelik op watter regsgrondslag hy van voorneme is om registrasievereistes juis vir hierdie installasies voor te skryf,” sê Steffens.

AfriForum het ook Nersa se vrae tydens die openbare deelname gekritiseer omdat dit hoofsaaklik daarop gefokus het of die voorgestelde registrasiestelsel duidelik en prakties is. Die vrae blyk te aanvaar dat registrasie gepas is, eerder as om eers te vra of dit nodig, regmatig, billik en proporsioneel is.

Veiligheid of ’n nuwe bron van munisipale inkomste?

Nersa stel die voorgestelde registers voor as ’n maatreël wat daarop gemik is om die veiligheid en betroubaarheid van die kragnetwerk te beskerm. AfriForum is egter bekommerd dat veiligheid moontlik nie die enigste doelwit agter die voorgestelde registers is nie.

“Munisipaliteite is histories erg afhanklik van kragverkope om hul bedrywighede te finansier en ander dienste te subsidieer. Jare se beurtkrag, Eskom se agteruitgang en skerp stygings in die kragprys het huishoudings, boere en ondernemings genoop om in sonkragstelsels te belê. Namate hierdie gebruikers minder elektrisiteit aankoop, neem munisipale inkomste af,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

’n Omvattende register sal munisipaliteite presies wys watter kliënte sonkragstelsels het, waar dié stelsels geleë is en wat hul opwekkingskapasiteit is. Hierdie inligting kan uiteindelik gebruik word om bykomende heffings, beskikbaarheidsfooie of sonkragverwante heffings in te stel.

“Daar bestaan dus ’n wesenlike risiko dat mense wat hul eie geld bestee het om hulself teen Eskom se mislukkings te beskerm, as ’n gerieflike bron van munisipale inkomste beskou sal word.”

Baie munisipaliteite beskik ook nie oor die administratiewe vermoë om ’n bykomende registrasie- of goedkeuringstelsel behoorlik te bestuur nie. So ’n stelsel kan tot lang vertragings, arbitrêre besluite en geleenthede vir korrupsie lei.

“Suid-Afrikaners behoort nie toestemming van disfunksionele munisipaliteite nodig te hê om hulself teen onbetroubare kragvoorsiening te beskerm nie. Hulle behoort ook nie met nuwe heffings gestraf te word omdat hulle op eie koste in alternatiewe energie belê het nie,” sluit Mostert af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf