|

AfriForum-tak laat gras in Klerksdorp spat

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het die afgelope maand onverpoos gewerk om die omgewing van Songloed op te knap. Dié span het Leemhuisstraat getakel en ongeveer 2 km se gras op middelmannetjies skoongesny, asook die eiland op die hoek van Oosthuizenlaan en Leemhuisstraat. Die stormwaterdreinering in dié straat is ook skoongemaak sodat reënwater doeltreffend kan dreineer.  

Die tak het ook die gras by die park waar die bergfietsbaan is gesny en skoongemaak. Die instandhouding van die bergfietsbaan is tot groot voordeel van die gemeenskap, aangesien daar baie mense is wat die park vir stap en fietsry gebruik. Met die hulp van sekuriteitsmaatskappye is diegene wat die gebied onwettig beset ook verdryf sodat die gemeenskap veilig daar kan oefen. Daar is boonop ongeveer 20 slaggate opgevul.

“Dit is onsinnig dat die gemeenskap wat belasting betaal nog self die dorp moet skoonhou. Aangesien die munisipaliteit versuim om veel onderhoudswerk te doen, is AfriForum se buurtspanne nou meer noodsaaklik as ooit,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“Op hierdie stadium het ons ’n keuse: óf ons dorp bly in die haglike toestand waarin dit tans is óf ons doen self iets daaraan. Die plaaslike AfriForum-tak het gekies om iets daaraan te doen en die dorp te verbeter,” sê S.W. Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak.

“AfriForum doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak, by die Klerksdorp-tak aan te sluit en saam ’n wesenlike verskil in die toestand van die dorp te maak.”

Kontak Scott by 082 806 7484 vir meer inligting of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf