| | |

Jarelange rioolkrisis in Potchefstroom nou ’n menseregtekwessie

Die AfriForum-tak in Potchefstroom eis dat die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit nou ’n oplossing moet bied vir die voortslepende rioolkrisis in Paryslaan. Inwoners gaan reeds sedert 2024 gebuk onder hierdie rioolprobleme. Ten spyte van talle ondernemings dat die probleem opgelos sal word, duur dit steeds voort en word inwoners steeds aan rou riool en onhigiëniese toestande blootgestel.

Die situasie het die afgelope maande versleg. Riool stoot deur mangate op in eiendomme en aangrensende woonkomplekse in en het in sommige gevalle selfs deur inwoners se storte teruggestoot. AfriForum meen dié situasie is lankal nie meer bloot ’n diensleweringsprobleem nie, maar ’n ernstige gesondheids-, omgewings- en menseregtekwessie.

Mangat in Paryslaan waar riool opstoot

AfriForum en lede van die gemeenskap moes reeds in 2024 self ingryp en ’n tydelike pyp installeer om die probleem te verlig. Sedertdien het die munisipaliteit herhaaldelik aangedui dat ’n permanente oplossing geïmplementeer sou word, maar meer as twee jaar later is die onderliggende probleem steeds nie opgelos nie.

“Die inwoners is moeg vir leë beloftes. Die munisipaliteit stel telkens ’n ander kontrakteur aan wat tydelike werk verrig, maar niemand los die werklike probleem permanent op nie omdat hulle nie instruksie van die munisipaliteit kry nie. Intussen moet gewone inwoners met rou riool op hul eiendomme en selfs in hul huise saamleef. Dit is onaanvaarbaar en ’n skending van inwoners se reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“AfriForum het ook vrae oor die ekonomiese doeltreffendheid daarvan om belastingbetalers se geld te spandeer op korttermyn-oplossings wat gereeld herhaal moet word eerder as om die onderliggende infrastruktuurprobleem op te los. Hierdie benadering kan nie as ’n verantwoordelike besluit beskou word nie,” sê Douglas Bourn, AfriForum se takvoorsitter in Potchefstroom.

Die voortgesette rioolbesoedeling raak ook inwoners se grondwetlike regte. Artikel 24 van die Grondwet beskerm elkeen se reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie, terwyl plaaslike regering verplig is om dienste volhoubaar te lewer en ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder. AfriForum eis nou dat die munisipaliteit ’n geloofwaardige herstelplan voorlê waarin die beraamde kostes en tydsraamwerk duidelik uiteengesit word.

“Ons soek nie nóg ’n belofte, nóg ’n tydelike pleister op ’n probleem wat al jare voortduur nie. Inwoners het lank genoeg gewag. Die J.B. Marks-munisipaliteit moet nou ophou om die probleem rond te skuif en ’n permanente oplossing implementeer,” sluit Pretorius af.

Indien die munisipaliteit nie ’n aanvaarbare herstelplan verskaf nie, sal AfriForum verdere stappe doen deur die toepaslike provinsiale en nasionale owerhede, omgewings- en waterreguleerders te nader en verdere regstappe te oorweeg.

Raak by AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing skoon en veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit. Of besoek www.wordlid.co.za en kies die tak waarby jy betrokke wil raak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf