AfriForum berei voor vir dringende aansoek om skole in Tshwane-metrogebied se kragtoevoer te herstel
AfriForum berei tans saam met minstens een skool voor om die hof met ’n dringende aansoek te nader om te verseker dat die kragtoevoer na sommige skole in Pretoria en Centurion herstel word. Dit volg nadat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit sowat ’n week gelede die skole in kennis gestel het dat hulle krag afgesny gaan word aangesien hul eiendomsbelastingrekeninge agterstallig is.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die skole se kragrekeninge ten volle betaal, trouens sommige het selfs al vooruitbetaal. Die rekeninge vir dienste soos krag- en watertoevoer is die verantwoordelikheid van die beheerliggame. Die eindomsbelasting moet egter deur die owerhede betaal word, wat tans skynbaar nie in die Tshwane-metro gebeur nie. AfriForum het in 2009 ’n soortgelyke saak teen dié metro gewen en is daarom gereed om weer skole se toegang tot dienste waarvoor hulle betaal, te verdedig.
“Dit is onregverdig dat leerders en personeel se regte tot gehalte-onderrig, veiligheid en selfs die voorsiening in hul basiese behoeftes geskend word weens die owerhede se wanadministrasie. By die skole waar daar tans geen krag is nie, kan onderrig nie soos normaalweg plaasvind nie. Stelsels wat veiligheid op die perseel moet beskerm, is buite werking. Voedingskemas wat warm etes aan die mees kwesbare kinders moet voorsien, kan nie voortgaan nie, terwyl voorrade in yskaste bederf. Waar skole kragopwekkers het, kan net die mees noodsaaklike dienste gelewer word en dit teen ’n uiters hoë koste weens die huidige dieselprys. Selfs hierdie gebrekkige gebruik van elektrisiteit is dus nie volhoubaar nie,” verduidelik Bailey.
“AfriForum hoor graag van enige skool in die metropolitaanse gebied wat tans deur hierdie optrede van die Tshwane-metro geraak word. Ons verwelkom dat een van die skole se beheerliggame ons reeds gekontak het om hulle te verteenwoordig. Hulle staan op in die belange van hul leerders en personeel. Ons moedig enige ander beheerliggaam, wat dieselfde uitdagings in die gesig staar, aan om ook die moed aan die dag te lê om by die regsaksie aan te sluit. Dit skep ’n belangrike presedent vir alle skole wat so onregverdig benadeel word. AfriForum vertrou dat blywende oplossings ook nou vir eens en vir altyd teen hierdie onregmatige optrede van die metro en wanadministrasie van die owerhede gevind kan word. Tans word die mees weerloses en onskuldiges gestraf vir amptenare se versuim,” sluit Bailey af.



