Ngwathe-munisipaliteit onder toenemende druk: AfriForum eis ondersoek
AfriForum eis ’n dringende, behoorlike en onafhanklike ondersoek na die groeiende aantal ernstige bewerings van finansiële en bestuursongerymdhede by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. Dié oproep kom te midde van bewerings rakende die voormalige burgemeester Victoria de Beer-Mthombeni en haar man se betrokkenheid by ’n multimiljoenrand tender-afpersingskema wat nou deur die Valke-ondersoek word.
Verskeie ander kwessies – insluitende ’n hofuitspraak waardeur die munisipale bestuurder se aanstelling ongeldig verklaar is; die munisipaliteit se versuim om betyds ingevolge ’n hofbevel verslag te doen; en kommerwekkende bevindings deur die ouditeur-generaal (OG) – wys reeds volgens AfriForum moontlik op ernstige ongerymdhede wat ondersoek moet word.
In die jongste storm wat spreekwoordelik om die kop van die voormalige burgemeester losgebars het, word onder meer beweer dat De Beer-Mthombeni R3 miljoen van ’n kontrakteur geëis het in ruil vir die behoud van ’n R58 miljoen- munisipale waterkontrak.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek, moet dié bewerings nou dringend en sonder politieke of administratiewe inmenging ondersoek word.
Dit kom boonop kort nadat die Vrystaatse Hooggeregshof op 2 Oktober die Ngwathe- munisipale raad se aanstelling van Futhuli Patrick Mothamaha as munisipale bestuurder irrasioneel, ongeldig en nietig verklaar het. Mothamaha het aangedui dat hy aansoek om verlof tot appèl gaan doen.
“Dit is moeilik om te aanvaar dat nóg openbare geld aan litigasie bestee kan word om ’n aanstelling te probeer verdedig wat die hof reeds tersyde gestel het, terwyl die munisipaliteit se inwoners daagliks met gebrekkige dienslewering saamleef. Openbare geld behoort tot voordeel van die gemeenskap aangewend te word,” sê Pretorius.
AfriForum is verder ernstig bekommerd dat die eerste verslag wat ingevolge die hofbevel oor die ingryping by die munisipaliteit ingedien moes word, steeds nie aan die hof voorgelê is nie. AfriForum se regspan het die verantwoordelike partye reeds hieroor aangemaan.
Pretorius voer voorts aan dat die OG se aankondiging, in November verlede jaar, dat die munisipaliteit in die 2024/2025-boekjaar meer as R105 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes en meer as R143 miljoen se ongemagtigde uitgawes aangeteken het, ook in berekening gehou moet word wanneer die mislukkings van die munisipaliteit ondersoek word.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, hou vol datwanneer die hof, die OG en nou ook ’n Valke-ondersoek ernstige vrae oor verskillende aspekte van plaaslike bestuur laat ontstaan, kan inwoners nie met nóg verskonings tevrede wees nie. “Elke geloofwaardige bewering moet ondersoek word en waar bewyse van oortredings bestaan, moet die verantwoordelike persone aanspreeklik gehou word – ongeag hul posisie of politieke verbintenis,” verduidelik hy.
“Die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit het nou lank genoeg gely onder swak leierskap. Dit is tyd vir geregtigheid en verantwoording,” sluit Pretorius af.
AfriForum sal voortgaan om die hofbevel en die ingryping by Ngwathe-munisipaliteit te moniteer en sal verdere stappe doen waar nodig om deursigtigheid, behoorlike bestuur en aanspreeklikheid af te dwing.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, (082 653 4281) om betrokke te raak.



