|

Laat jou stem tel in vanjaar se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Deur Megan Swart

Die pad wat entrepreneurs stap is selde reguit en word dikwels gepeper met hoë hoogtes en lae laagtes. Daar is egter min dinge so bevredigend soos om dít wat eens op ’n tyd slegs ’n idee was, in ’n sukses te omskep en op ’n nasionale platform daarvoor erken te word.

AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is reeds in volle swang en vir die volgende twee weke het lede van die publiek die geleentheid om vir hul gunsteling-entrepreneur te stem. Aan die einde van die stemproses gaan slegs tien entrepreneurs uit die 24 deelnemers koning kraai en deurdring na die semifinaal.

Die publiek se stemme speel ’n deurslaggewende rol in die bepaling van die tien semifinaliste. Altesaam agt van die semifinaliste word op grond van die publiek se stemme op 19 Oktober aangekondig, terwyl die beoordelaars self die ander twee semifinaliste kies. Die beoordelaars evalueer dié finaliste verder, waarna vyf finale finaliste op 23 Oktober bekendgemaak word.

Die vyf finaliste kry toegang tot pasgemaakte besigheidsafrigting en meesterklasse voordat hulle op 11 November hoor wie met die titel van Entrepreneur van die Jaar wegstap. Die wenner ontvang dié gesogte titel, R50 000 kontant en ’n pryspakket ter waarde van bykans R300 000.

Volgens Deon de Jager, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, gaan dié kompetisie nie net oor die finale wenner nie. “Met Entrepreneur van die Jaar wil ons nie net entrepreneurs se harde werk en sukses erken nie, maar ook vir hulle ’n platform bied om hul ondernemings aan ’n groter gehoor bekend te stel. Die publiek kry nou die geleentheid om hul gunsteling-entrepreneurs te ondersteun en ’n direkte rol in hul toekomstige sukses te speel,” sê De Jager.

Sedert 2017 het sowat 520 entrepreneurs vir dié kompetisie ingeskryf en het meer as 28 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem. In 2025 het WC Reynders van FitFoodz met die titel van Entrepreneur van die Jaar weggestap.

Die publieke stemming open op 6 Oktober om 20:00 en sluit op 18 Oktober om 12:00. Klik hier vir meer inligting oor die kompetisie en om te stem.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners