|

Gemeenskap blaas nuwe lewe in Upington se historiese treinbrug

Ná nege dae se harde werk is die historiese treinbrug in Schröderstraat weer ’n duidelike baken op die dorp nadat AfriForum se Upington-tak, Sheriff Security Upington, Oranje Mica Upington en Walker Midas Upington saamgespan het om die brug heeltemal oor te verf.

Die projek het van 25 Junie tot 3 Julie geduur en het van tientalle vrywilligers, werkers en verwers vereis om hul tyd en kundigheid te gebruik om die brug weer duidelik sigbaar te maak. Altesaam 70 liter verf, wat geel- en rooiverf insluit, is gebruik om die brug se kenmerkende strepe oor te verf. Dié verf bied ’n duursame afwerking wat die elemente kan weerstaan.

Die projek het verder behels dat die gebied langs die brug met ’n trekker en padskraper skoongemaak is. Opgehoopte grond en rommel is verwyder, terwyl twee groot vullishouers gebruik is om huishoudelike afval wat oor ’n lang tydperk opgehoop het, weg te ry. Dié deel van die projek help om die veiligheid en toeganklikheid van die gebied te verbeter.

Die treinbrug, wat in 1915 gebou is, is een van Upington se bekendste historiese bakens en speel meer as ’n eeu later steeds ’n belangrike rol in die spoornetwerk. Die laagliggende brug is egter berug vir botsings waarby vragmotors betrokke is, wat gereeld lei tot ernstige skade aan die brug, hoë herstelkostes en ontwrigtings in die verkeer.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Nood-Kaap, verbeter die laag verf die sigbaarheid van die brug en maak dit padgebruikers meer bewus van die hoogtebeperking. Dit verminder verder die waarskynlikheid van gereelde motorongelukke.

“Ondanks teenkanting van die plaaslike munisipaliteit is hierdie projek suksesvol voltooi. AfriForum bedank graag al die betrokkenes, insluitend elke vrywilliger, werker, skenker en ondersteuner wat toegesien het dat dié opknappingsprojek voltooi is,” sê Strauss.

“Die projek dien as voorbeeld van wat moontlik is wanneer organisasies, ondernemings en gemeenskapslede saamwerk om openbare ruimtes te verbeter. Saam kan ons Upington se geskiedenis vir toekomstige geslagte bewaar.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf