|

Steenkoolkontrakte: Eskom lewer uiteindelik kontrakte aan AfriForum ná jarelange stryd om deursigtigheid


1 359 dae – oftewel 3 jaar, 8 maande en 21 dae – sedert AfriForum op 21 September 2022 ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Eskom gerig het om toegang tot die kragvoorsiener se steenkool- en dieselkontrakte te kry, is dit uiteindelik Maandagaand (1 Junie) aan die burgerregteorganisasie voorsien. AfriForum verwelkom die oorhandiging van kontrakte en bestempel dit as ’n oorwinning vir deursigtigheid.

Die organisasie sal nou ’n paneel kundiges saamstel om die omvangryke inligting in die 52 ontvangde kontrakte te bestudeer en toe te sien dat enige twyfelagtighede wat met die kontrakte verband hou, uiteindelik op die lappe gebring kan word.

Eskom se lewering van die kontrakte kom ná die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein in Maart vanjaar Eskom se finale poging om ’n 2024-hofuitspraak om te keer, met koste van die hand gewys het. Kragtens die 2024-uitspraak is Eskom opdrag gegee om AfriForum van afskrifte van alle aktiewe kontrakte met betrekking tot die aankoop, vervoer en verspreiding van steenkool en diesel, sowel as ongeredigeerde kontrakte vir die voorsiening van elektrisiteit aan buurlande, te voorsien.   

Die openbaarmaking van die kontrakte is, volgens AfriForum, ’n kritieke oorwinning vir deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die publiek se grondwetlike reg op toegang tot inligting. Dit volg op ’n jare lange regsgeding waarin Eskom verbete geveg het om die inligting uit die openbare domein te hou. Die burgerregteorganisasie se deursettingsvermoë het egter nou vrugte afgewerp en geregtigheid het geskied.

AfriForum het uit die staanspoor van die saak volgehou dat die publiek ’n wettige belang het by inligting oor Eskom se verkryging van steenkool en diesel en die koste daarvan. Die kragvoorsiener het AfriForum se pogings om die inligting te bekom egter keer op keer teengestaan. Dit het tot ’n uitgerekte litigasieproses aanleiding gegee.

“Die kontraktesaak gaan nie bloot oor die verkryging van dokumente nie. Dit gaan oor Suid-Afrikaners se reg om te weet hoe miljarde rande se staatsfondse bestee word deur een van die land se belangrikste staatsentiteite. Dit gaan oor die beginsel dat openbare instellings verantwoordbaar moet wees teenoor die mense wat hulle dien – mense wat die wrang vrugte moet pluk van stygende elektrisiteitstariewe, beurtkrag en Eskom se verkrygingsmislukkings. Onder hierdie omstandighede is deursigtigheid nie opsioneel nie; dit is noodsaaklik,” verduidelik  Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Volgens Mostert bevestig Eskom se eie finansiële en bestuursrekords dat inligting oor Eskom se steenkool- en dieselverkryging van kritieke belang is. Onafhanklike ouditeure het ook al voorheen gewys op beduidende tekortkominge in die bestuur van Eskom se dieselverkrygingsprosesse en die steenkool-aanbodketting. Openbare verslae het ook dieselfde probleme uitgelig oor jare se onreëlmatighede en bestuursprobleme by Eskom.

Samestelling van paneel kundiges volg binnekort

AfriForum maak nou gereed om – met die hulp van ’n paneel kundiges – die kontrakte in detail te bestudeer. Die paneel sal bestaan uit onafhanklike kundiges in verkryging, energieregulering en openbare finansies. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal AfriForum die bevindinge met die publiek deel en ’n gedetailleerde assessering van die verkrygingsreëlings, prysstrukture en ander relevante kwessies bied.

In dié stadium kom dit voor asof Eskom nie alle aktiewe kontrakte vir die tydperk van AfriForum se versoek voorsien het nie. Verdere ondersoek word egter vereis te bepaal of enige kontrakte ontbreek.

“Hierdie saak het ’n belangrike beginsel gevestig: Wanneer daar vrae kom oor staatsbesteding, kan staatsentiteite nie bloot beweer die inligting is vertroulik nie. Deursigtigheid is die hoeksteen van verantwoordbaarheid, en dit is ’n voorvereiste vir die herstel van vertroue in die land se openbare instellings. Die bekendmaking van hierdie kontrakte is nie die einde van die proses nie; dit is die begin van behoorlike openbare ondersoek,” sluit Mostert af.

AfriForum bedank sy lede en ondersteuners wat die organisasie in staat gestel het om hierdie saak oor etlike jare voort te sit. Die saak demonstreer die waarde van die burgerlike samelewing se volgehoue ​​toesig en die belangrikheid daarvan om openbare instellings aanspreeklik te hou, en indien nodig dit deur die howe te doen.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik