AfriForum eis munisipale bestuurder se bedanking oor totale chaos in Bloemfontein
AfriForum het Woensdag in ’n skrywe aan Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, geëis dat hy sy onmiddellike bedanking indien ná die voortslepende wanbestuur van fondse en die verval van infrastruktuur in die metro. Die verval van dienslewering in Bloemfontein het ’n kritieke punt bereik met nuwe inligting wat bevestig dat meer as R1,6 miljard oor vyf jaar verlore gegaan het weens waterlekkasies, ’n direkte gevolg van swak bestuur, gebrekkige instandhouding en totale administratiewe mislukking.
Volgens AfriForum verdien die inwoners van Bloemfontein betroubare en funksionele basiese dienste, verantwoordbare en bevoegde leierskap en deursigtige en eerlike finansiële bestuur.
Luidens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die verval van Bloemfontein nie net ’n infrastruktuurprobleem nie, maar ’n leierskapskrisis. “Terwyl miljarde rande vermors word, word inwoners sonder betroubare vullisverwyderingsdienste gelaat en ’n munisipaliteit wat nie eers diesel vir vullisverwyderingsvragmotors kan bekostig nie, vullisterreine wat nie op standaard is nie en swak bestuur word, paaie wat oortrek is met gevaarlike slaggate en parke wat al vir maande lank verwaarloos is.”
Ten spyte hiervan, wys die Mangaung-jaarverslag vir 2024/2025 herhaaldelik op onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes, wat ’n kultuur van wanbestuur en geen aanspreeklikheid bevestig.
“Nog meer skokkend is dat die munisipale bestuurder, mnr. More, homself in 2024 met ’n salarisverhoging van ongeveer R700 000 per jaar toegeken vir sogenaamde “uitmuntende prestasie”. Hierdie besluit is ’n klap in die gesig van elke belastingbetaler wat daagliks die gevolge van hierdie mislukking moet dra,” sê Grobbelaar.
“AfriForum stel dit duidelik: hierdie situasie is onaanvaarbaar, daarom eis ons formeel die onmiddellike bedanking van mnr. More. Sy voortgesette aanstelling is onhoudbaar en ondermyn enige poging om die munisipaliteit te herstel,” sluit Grobbelaar af.
AfriForum beplan ook om sy buurtspan opleiding te gee om waterlekkasies te herstel, sodat die organisasie kan ingryp waar die metro nie sy verpligtinge nakom nie.
Verder moedig AfriForum ook die Bloemfontein-gemeenskap aan om sy petisie te onderteken om inwoners se ongelukkigheid te beklemtoon. Elke keer wat iemand die petisie onderteken, sal ’n versoek om bedanking aan More gestuur word. ’n Afskrif van die versoek sal ook aan Gregory Nthatisi, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, en MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaat-premier, gestuur word.



