Polisiekonstabel betrek by veediefstal oneervol ontslaan
’n Betroubare bron het aan AfriForum bevestig dat ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van Standerton, wat tereg staan op aanklag van die diefstal van nagenoeg R450 000 se beeste in die Standerton-, Greylingstad- en Perdekop-omgewing, vroeër vandeesweek oneervol uit die polisie ontslaan is. Konstabel Siyabonga Cindi van die Standerton-veediefstaleenheid is in Augustus 2025 gearresteer en het die eerste keer op 2 September in die hof verskyn op aanklagte van veediefstal. Hy het weer in Maart vanjaar in die hof verskyn ná hy by nog voorvalle van veediefstal betrek is.
AfriForum verwelkom Cindi se ontslag en ag dit as ’n positiewe stap om misdadigheid ten opsigte van veediefstal in die polisie uit te roei.
“Dit is tragies dat die einste individue wat veronderstel is om boere te beskerm teen dié misdaad, ook by veediefstal betrek word – dit is soos om wolf skaapwagter te maak,” verduidelik Hennie Bekker, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld en samesteller van AfriForum se opleiding oor die bekamping van veediefstal.
Bekker benadruk voorts dat die jongste misdaadstatistiek wat aanvoer dat daar ’n 9,8%-afname in die aantal veediefstalsake (indien die vierde kwartaal van 2025/2026 vergelyk word met die ooreenstemmende kwartaal in 2024/2025) nie die ernstige omvang en finansiële implikasie van dié misdaad weerspieël nie.
In die 2025/2026-boekjaar is daar volgens die SAPD se misdaadstatistiek ’n totaal van 23 251 veediefstalsake aangemeld waarin ’n totaal van 72 709 skape, 50 805 bokke, 49 775 beeste sowel as kleiner hoeveelhede hoenders, varke, donkies, wild en perde gesteel is. Bekker hou vol dat die ware omvang van veediefstal veel hoër is weens onderrapportering van die misdaad aangesien boere se vertroue in die veediefstaleenhede ’n laagtepunt bereik het.
Konserwatief gereken is die direkte verlies weens die diefstal van beeste, skape en bokke tans onderskeidelik nagenoeg R15 000, R2 500 en R3 000 per dier. Dit bring die totale verlies vir die landbousektor vir die 2025/2026-boekjaar weens die diefstal van beeste, skape en bokke op minstens R1 miljard te staan.
“Veediefstal is lankal nie meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad nie. Dit het nou omvorm tot ’n gesofistikeerde misdaad waarin sindikate en selfs ook polisielede na bewering by betrokke is – soos in die geval van Cindi,” verduidelik Bekker.
“Boere verkeer tans onder enorme druk weens onder meer die bek-en-klouseerkrisis en stygende brandstofpryse. Die bykomende verlies weens die diefstal van vee, of insetkoste om die diefstal te probeer voorkom, plaas nog verdere druk op ’n sektor wat die land se mense moet voed. Hernieude ywer in en politieke wil vir die bekamping van dié misdaad is dus in die belang van die landboubedryf sowel as elke burger in die land,” sluit Bekker af.
AfriForum moedig intussen boere aan om veediefstal steeds by die SAPD aan te meld om te verseker dat ’n meer akkurate beeld van die omvang van dié misdaad verkry kan word.
Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike veiligheidstrukture. Vir meer inligting oor AfriForum se buurt- en plaaswagte klink hier.



