| | | |

Overstrand-tak nou slaggereed om gemeenskap gedurende brande te help

AfriForum se Overstrand-tak het op 25 Junie hul eerste bakkie-sakkie aangekoop. ’n Bakkie-sakkie is ’n mobiele brandbestrydingseenheid wat die tak se vermoë om vinnig op veld en natuur brande te reageer, aansienlik sal verbeter. Dit is veral in hierdie omgewing van belang om goed toegerus te wees vir hierdie soort situasies.

Lede van dié tak het reeds vroeër in April opleiding van AfriForum se rampbestuurspesialis, Tarien Cooks, ontvang om hulle toe te rus met die nodige kennis en praktiese vaardighede om doeltreffend op te tree gedurende noodgevalle.

Dié brandbestrydingseenheid het net betyds vir die brandseisoen gekom. Die verwoestende brande wat gedurende Desember 2025 en Januarie 2026 in die gebied gewoed het, het die noodsaaklikheid van beter voorbereiding en vinnige reaksie vermoë beklemtoon.

Die bakkie-sakkie is op Saterdag 27 Junie 2026, tydens ’n gemeenskapsgeleentheid in Pearly Beach amptelik aan die gemeenskap bekend gestel. Die eenheid is deur Fanie Coetzee, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak, aan Mark Boontjes, buurtwagleier van AfriForum se Pearly Beach-buurtwag oorhandig. Die Pearly Beach-buurtwag vorm deel van AfriForum se Overstrand-tak

“Hierdie bakkie-sakkie is ’n belegging in die veiligheid van ons gemeenskap. Ons is trots daarop dat ons nou oor die toerusting en opgeleide vrywilligers beskik om, waar moontlik en in samewerking met die relevante nooddienste, ’n betekenisvolle bydrae te lewer wanneer brande uitbreek,” sê Coetzee.

Boontjes het die ondersteuning verwelkom en beklemtoon dat die mobiele brandbestrydingseenheid ’n waardevolle hulpmiddel vir Pearly Beach en omliggende gebiede sal wees, veral gedurende die brandseisoen wanneer vinnige optrede dikwels die verskil tussen ’n klein voorval en ’n groot ramp kan beteken.

AfriForum se Overstrand-tak spreek sy dank uit aan elke lid, ondersteuner en vrywilliger wat hierdie projek moontlik gemaak het. Die tak bly daartoe verbind om saam met die gemeenskap en ander rolspelers te werk om die veiligheid en weerbaarheid van die Overstrand te versterk.

Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum- takke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf