
Die kaderkrisis – Onbevoegde munisipale besture moet waai
In plaas daarvan om onbevoegde of korrupte amptenare aanspreeklik te hou, word hulle bloot na ander poste of munisipaliteite verskuif. Hierdie praktyk ondermyn aanspreeklikheid en vererger die reeds kritieke toestand van baie munisipaliteite.
Terwyl politieke faksiegevegte voortduur, stort infrastruktuur in duie, dienslewering versleg en gemeenskappe ly onder swak bestuur.
Ons, die ondergetekendes, staan vandag saam met een doel: om terug te veg teen die verval van ons dorpe en ons land.
Ons veg teen verval.
Ons veg teen korrupsie.
Ons veg teen swak dienslewering.
Ons veg teen ’n regering wat gemeenskappe in die steek laat en nie aanspreeklik gehou word nie.
Elke dag sien ons hoe:
- paaie verbrokkel;
- water- en elektrisiteitsdienste faal;
- misdaad toeneem; en
- belastinggeld vermors of gesteel word.
Ons gaan nie langer stilbly nie. Ons gaan nie terugstaan nie.
Ons gemeenskappe verdien beter. Ons kinders verdien ’n toekoms.
Hierdie petisie is ons stem. Hierdie is ons moermeter.
Met elke naam wat bykom, bou ons momentum. Met elke handtekening wys ons dat die publiek gereed is om op te staan en verandering af te dwing.
By 1 000 handtekeninge: 1 000 klagtes word na die LUR van elke provinsie gestuur.
By 5 000 handtekeninge: 5 000 klagtes word gestuur na elke premier om die swak toestand van ons dorpe aan hulle oor te dra, teen die swak besture klagtes in te dien en verantwoordelikheid te eis.
By 10 000 handtekeninge: 10 000 e-posse word aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur oor die swak bestuur van ons dorpe en die vervalle toestand daarvan.
By 50 000: ’n Amptelike brief met al die name en stemme word aan die Amerikaanse ambassadeur gestuur om internasionale aandag op die verval, korrupsie en wanbestuur in Suid-Afrika te vestig.
Ons eis die volgende:
- Aanspreeklikheid vir korrupsie en wanbestuur
- Herstel van basiese dienslewering
- ’n Einde aan kaderontplooiing wat onbevoegde leiers aanstel
- Respek vir belastingbetalers en gemeenskappe.
- Dat privaat ondernemings en gemeenskapsorganisasies toegelaat word om dienslewering aan te vul waar munisipaliteite misluk
- Dat praktiese oplossings belangriker geag word as politieke beheer
Hierdie gaan nie oor politiek nie.
Dit gaan oor aksie.
Dit gaan oor die toekoms van Suid-Afrika.
Teken vandag. Deel dit wyd. Staan saam. Veg saam.
Verandering begin wanneer mense besluit: Genoeg is genoeg – nou veg ons terug!
"*" indicates required fields







