|

VS-munisipaliteit dok miljoene op vir watertenkwaens, afhanklikheid neem toe – AfriForum eis antwoorde

AfriForum eis rekenskap van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit ná dié munisipaliteit van Maart 2025 tot Maart 2026 meer as R14 miljoen vir die huur van watertenkwaens opgedok het. Dié besteding is drie keer meer as die sowat R4,6 miljoen wat die munisipaliteit skaars twee jaar gelede in die 2023/2024-boekjaar op dieselfde diens uitgegee het. Dit dui volgens AfriForum op ’n ernstige en toenemende afhanklikheid van watertenkwaens vir die lewering van water aan inwoners.

In die munisipaliteit se 2016/2017-jaarverslag is aangevoer dat die gebruik van watertenkwaens ingespan is weens droogte wat in die munisipaliteit ondervind is. Sedertdien is dit duidelik dat die gebruik van watertenkwaens nie meer as noodverligting weens droogte ingespan word nie, maar as ’n deurlopende hulpmiddel om die sistemiese verval van waterinfrastruktuur die hoof te bied.

Boonop blyk dit uit die jongste beskikbare jaarverslag vir die 2024/2025-boekjaar dat die munisipaliteit slegs 53% (oftewel sowat R4,4 miljoen) van die begrote bedrag van nagenoeg R8,2 miljoen vir herstel en instandhouding van waterdienste bestee het. Dié onderspandering van die begroting wat vir kritieke instandhouding geoormerk was, wys op ’n kommerwekkende tendens in die munisipaliteit om korttermynoplossings eerder as volhoubare langtermynoplossings na te jaag.

AfriForum dring daarom in ’n brief, wat vandag gestuur is aan die munisipale bestuurder, Nomvula Malatjie, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings in die Vrystaat, Teboho Mokoena, aan op antwoorde oor die toenemende gebruik van dié duur hulpmiddel.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is dit in uitsonderlike gevalle noodsaaklik om van noodwatervoorsiening gebruik te maak. Dit blyk egter dat hierdie noodmaatreël nou die norm geword het.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners van Ficksburg, Clocolan, Marquard en Senekal op tydelike noodmaatreëls aangewese is, terwyl miljoene rande daaraan bestee word sonder dat die onderliggende infrastruktuurprobleme opgelos word. Wanneer ’n munisipaliteit jaar ná jaar miljoene aan noodmaatreëls moet bestee, is dit nie ’n teken van suksesvolle dienslewering nie, maar eerder van swak beplanning, onvoldoende instandhouding en gebrekkige bestuur,” verduidelik Grobbelaar.

AfriForum dring by die munisipaliteit aan op antwoorde oor onder meer:

  • waarom die munisipaliteit steeds staatmaak op die gebruik van privaat diensverskaffers van watertenkwaens eerder as om die herstel en uitbreiding van waterinfrastruktuur te prioritiseer; en
  • watter stappe gedoen word om die gebruik van watertenkwaens as roetinemaatreël uit te faseer.

Grobbelaar bestempel die skynbare afwesigheid van ’n haalbaarheidstudie – om die kostedoeltreffendheid van infrastruktuurontwikkeling of die aankoop van watertenkwaens deur die munisipaliteit teenoor jare lange gebruik van kontrakteurs te bepaal – as kommerwekkend.

“Die situasie in die Setsoto-munisipaliteit is simptomaties van ’n groter probleem wat in talle munisipaliteite oor die hele land voorkom. Swak bestuur en ’n gebrek aan langtermynbeplanning lei tot ’n toenemende besteding aan noodoplossings, terwyl die infrastruktuur steeds verder verval. Elke rand wat aan herhalende noodmaatreëls bestee word, is ’n rand wat nie aangewend word om permanente oplossings te skep nie. Munisipaliteite moet wegbeweeg van krisisbestuur en hul eerder toespits op krisisvoorkoming”, sluit Grobbelaar af.

Voeg jou stem by AfriForum se stryd teen kaderontplooiing Voortdurende verval van munisipale infrastruktuur en die vermorsing van openbare fondse is die direkte gevolg van swak bestuur en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Ondersteun AfriForum se stryd teen kaderontplooiing en onbevoegde munisipale bestuur hier.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik