| | |

Kragkrisis in Ventersdorp los inwoners met hul hande in hul hare, plaas druk op plaaslike ekonomie

Die kragkrisis in Ventersdorp het nou tot so mate vererger dat dit ’n direkte negatiewe impak het op huishoudings, ondernemings, skole en die algehele welstand van die gemeenskap. AfriForum se Ventersdorp-tak doen nou ’n beroep op Gaba Thithiba Ka Qhele, uitvoerende burgemeester van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit om dringend aandag te gee aan verskeie klagtes rakende voortslepende kragprobleme in dié dorp.

Inwoners gaan gebuk onder gereelde, langdurige kragonderbrekings weens die dorp se beperkte elektrisiteitsinfrastruktuur. Slegs een van die dorp se twee transformators is na bewering tans operasioneel, wat daartoe lei dat daar gereelde lasverminderingsmaatreëls ingestel word op die kragnetwerk, veral gedurende die wintermaande.

Die gevolge hiervan is verreikend. Inwoners meld skade aan huishoudelike toestelle, voedselverliese, onderbrekings van waterpompe, moeilike leeromstandighede vir skoolgaande kinders en verhoogde veiligheidsrisiko’s as gevolg van donker strate en toenemende kabeldiefstal. Plaaslike ondernemings word verder gedwing om teen groot koste van kragopwekkers gebruik te maak om hul bedrywighede voort te sit.

Toegang tot betroubare elektrisiteits- en watervoorsiening is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese diens waarop elke inwoner geregtig is. Die voortdurende verswakking van dienslewering plaas nie net inwoners onder geweldige druk nie, maar belemmer ook ekonomiese groei en ontwikkeling in die dorp.

AfriForum eis terugvoer van die JB Marks-munisipaliteit oor die huidige stand van Ventersdorp se elektrisiteitsinfrastruktuur en die stappe wat gedoen word om die probleem op kort-, medium-, en langtermyn op te los.

Indien die nodige ingrypings nie plaasvind nie, sal verdere stappe oorweeg word om die belange van inwoners te beskerm.

“Gemeenskappe kan nie voortdurend onder die las van gebrekkige infrastruktuur en onbetroubare dienslewering leef nie. Die inwoners van Ventersdorp verdien antwoorde, aanspreeklikheid en daadwerklike oplossings,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum streekshoof vir die sentraalstreek.

Inwoners wat keelvol is vir munisipaliteite se mislukkings word aangemoedig om AfriForum se petisie te teken om sodoende meer druk te plaas op die regerende party om in te gryp by die munisipaliteite wat so swak bestuur word.  Teken die petisie hier

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf