Hof beslis in AfriForum se guns: Kaapstad se tariewe móét gegrond wees op werklike gebruik
Die Hooggeregshof in Kaapstad het vandag in AfriForum se guns beslis en bepaal dat die Kaapstad-metro se implementering van sy omstrede tariefmodel vir water gegrond op die waarde van die betrokke eiendom, onwettig en ongeldig is. Kragtens die uitspraak sal dié tariefmodel vanaf 30 Junie 2026 tersyde gestel word.
Die hof het vandag bevestig dat munisipale dienste slegs proporsioneel tot die werklike gebruik daarvan gehef mag word en dat heffings gebaseer op die waarde van die betrokke eiendom onwettig en onbillik is. Hierdie uitspraak bekragtig die billike kernbeginsel van die heffing van dienste gegrond op gebruik.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se streekshoof vir die suidstreek, bevestig vandag se uitspraak dat tariefstrukture deursigtig, rasioneel en wetlik verdedigbaar moet wees. “Enige poging van munisipaliteite om ’n inkomste te genereer deur arbitrêre of indirekte maatstawwe, val vierkantig buite die raamwerk van die wet – en die hof het dit nou weer herbevestig,” verduidelik Ferreira.
AfriForum het uit die staanspoor geargumenteer dat die Kaapstad-metro se benadering – om tariewe te hef op grond van die waarde van die eiendom – onregverdig en onwettig is. “Watergebruik hou geen rasionele verband met die waarde van ’n eiendom nie, en die hof het nou bevestig dat tariefmodelle wat dié benadering volg, onbillik en onwettig optree,” meen Ferreira.
Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, benadruk dat hoewel die uitspraak spesifiek betrekking het op die toepassing van dié tariefmodel in die Kaapstad-metro, die beslissing ook belangrike implikasies inhou vir munisipaliteite in die res van die land. “Munisipaliteite oor die hele land heen sal nou hul tariefstrukture moet herevalueer aan die hand van die duidelike standaard wat die hof nou gestel het, naamlik dat tariewe gekoppel aan verbruik nie opsioneel is nie, maar ’n regsvereiste,” verduidelik Mostert.
Ferreira hou vol dat hierdie uitspraak bevestig dat die howe steeds ’n kritieke rol speel om burgers te beskerm teen die regering se onregverdige praktyke.
Mostert voeg by: “Hierdie uitspraak kom op ’n deurslaggewende tydstip in die begrotingsiklus. Dit dwing nie net die Kaapstad-metro nie, maar ook alle munisipaliteite nou om hul benadering tot tariefbepaling reg te stel. Dit kom neer op ’n eenvoudige beginsel: jy betaal vir dit wat jy gebruik, niks meer nie.”
AfriForum sal intussen voortgaan om toe te sien dat die hof se beslissing reg toegepas word.
Sluit vandag nog aan by jou plaaslike AfriForum-tak. Klink hier vir meer inligting.



