|

Matjhabeng-munisipaliteit moet ingryp by vrotspul in Welkom – AfriForum

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)
Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Engels)

AfriForum eis ’n dringende ondersoek na die gesloer met die herstel van die rioolnetwerk in Riebeeckstad, Welkom, waar inwoners maande lank reeds ’n konstante vloei van rou riool in onder meer Lima- en Normanstraat moet trotseer. In ’n skrywe wat dié burgerregteorganisasie vandag aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gestuur het, dring AfriForum ook aan op die onmiddellike herstel van die probleem én die samestelling van ’n volhoubare aksieplan om die herhalende rioolprobleme in dié buurt te voorkom.

Riool vloei in die strate van Welkom. Dié video is in Mei vanjaar geneem.

Inwoners van Riebeeckstad gaan reeds maande lank gebuk onder ’n onuithoudbare vrotspul waar riool in die buurt se strate vloei, en in sommige gevalle selfs tot in woonerwe en huise vloei.

Die Matjhabeng-munisipaliteit het nou sewe dae om skriftelik op AfriForum se eise te antwoord.

Volgens die Departement van Water en Sanitasie is volgehoue swak instandhouding en vandalisme die redes vir die ernstige probleme met sanitasie-infrastruktuur in die Matjhabeng-munisipaliteit. Die departement het in Maart vanjaar aangevoer dat 9 van die munisipaliteit se 11 rioolsuiweringsaanlegte, 42 pompstasies en meer as 1 500 km van die rioolnetwerk verstop was en riooloorstromings in groot dele van die munisipaliteit – insluitende Welkom, Virginia en Ventersburg – tot gevolg gehad het.

Die huidige riooloorstromings kom nadat die departement reeds R1,2 miljard uit ’n begrote R4,2 miljard bestee het aan die opgradering van die munisipaliteit se sanitasie-infrastruktuur. Die opgraderingsprojek is in 2022 afgeskop en was teen Maart vanjaar sowat 46% afgehandel.

Ondanks die beweerde vordering met die opknappingsprojek ly inwoners van die munisipaliteit steeds ernstige skade. Die situasie veroorsaak skade aan privaat eiendom en stel inwoners bloot aan ernstige gesondheid- en omgewingsrisiko’s.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, pluk inwoners nog duidelik nie die vrugte van die sogenaamde vordering wat in opknapping van die munisipaliteit se sanitasie-infrastruktuur gemaak is nie.

“Die voortdurende blootstelling van inwoners aan rou riool is onaanvaarbaar. Toegang tot behoorlike sanitasie is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese diens waarop elke inwoner geregtig is. Wanneer riool in strate, erwe en huise beland, dui dit op ernstige tekortkominge in infrastruktuuronderhoud en dienslewering,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar waarsku dat vervallende infrastruktuur en swak dienslewering sal voortgaan vir solank as wat onbevoegde munisipale bestuur en kaderontplooiing toegelaat word om in plaaslike regerings te floreer.

AfriForum wag nou op terugvoer van die munisipaliteit. Die organisasie sal die aangeleentheid noukeurig monitor en verdere stappe oorweeg indien die munisipaliteit nie binne ’n redelike tyd daadwerklik optree om die probleem op te los nie.

Voeg jou naam hier by en ondersteun AfriForum se stryd teen die kaderkrisis in munisipaliteite.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik